Saak teen dagmoeder uitgestel oor getuies

Die Burger

Verslaggewer: Ilse Krige

Somerset-Wes – Teleurstelling en ‘n persepsie van die beskuldigde dat slegs die staat bevoordeel word met die roep van nuwe getuies, is gister hier in die streeklanddroshof op rekord geplaas. Uitspraak is gister verwag in die saak waarin aangevoer word dat me. Monica Helm, ‘n dagmoeder, vir die kleuters in ‘n dagsorgsentrum susmiddels ingegee het. Streeklanddros Marilyn Cannon het egter gesê dit is belangrik dat sy nog getuies wat gedurende die verhoor deur ander getuies genoem is, moet roep. “Die rede hoekom die twee getuies nie vandag hier kan wees nie, is omdat een van hulle na Johannesburg verhuis het,” het sy verduidelik. Mnr. Keith Gess, Helm se prokureur, het gesê hy het aan sy kliënt die stand van sake verduidelik, maar sy wou nietemin haar misnoeë uitspreek. Volgens die verdediging moes die staat reeds in die verloop van die saak die getuies geroep het. Cannon het aangedui sy hoef nie te verduidelik waarom sy nog getuies wil aanhoor nie. “Ek het gedurende die reses deur groot volumes getuienis in hierdie saak gewerk. Die hof is heeltemal daarop geregtig om gebruik te maak van dit waarvoor die wet voorsiening maak. Die saak word dus vir die aanhoor van die twee verdere getuies tot 14 Februarie uitgestel en uitspraak sal op 17 Februarie plaasvind,” het sy beslis. Helm staan tereg op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die alternatiewe aanklag is kindermishandeling. Sy het die Kinderland-dagsorgsentrum in Somerset-Wes bedryf. Helm is op 12 Desember 2007 in hegtenis geneem omdat sy na bewering voorskrif-susmiddels aan die kinders in haar sorg gegee het. Me. Janine Heyns, ‘n ma van een van die kinders, het ‘n klag by die polisie ingedien nadat daar slaapmiddels in die urinemonster van haar seun, Michael, gevind is.

To Top