SAAK VOORLOPIG TERUGGETREK

ARTIKEL DEUR NIELEN DE KLERK VAN DIE BURGER

KAAPSTAD – ‘n Voormalige Protea-krieketspeler is in die sop nadat hy na bewering onder die invloed van drank bestuur het. Monde Zondeki (32) is in Junie verlede jaar in Goodwood vasgetrek. Hy was na bewering op pad terug van die lughawe na sy huis in Bothasig toe hy by ‘n padblokkade voorgekeer is. Zondeki, geklee in ‘n netjiese pak, was gister by die Goodwood-landdroshof waar hy op die aanklagte sou verskyn. Sy prokureur, Bruce Hendricks, het egter suksesvolle vertoë gerig en die saak is voorlopig teruggetrek totdat die uitslag van sy bloedtoets bekend is. Kapt. Frederick van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Zondeki. ‘n boorling van die Oos-Kaap, het verlede jaar weens knaende rugbeserings as speler uitgetree nadat hy 12 jaar lank beroepskrieket gespeel het. Hy het as snelbouler in ses toetse en 13 eendaagse wedstryde vir die Proteas gespeel asook in 91 wedstryde vir die Cape Cobras. Hy het verlede jaar met die aankondiging van sy uittrede gesê hy sal hom voortaan op ‘n loopbaan as afrigtig en TV-kommentator toespits.

To Top