Sokkerspeler moet in hof verskyn

DIE BURGER – ARTIKEL DEUR JANA BREYTENBACH

KAAPSTAD – Die vrou wat ‘n speler van die Kaapse Premierliga-sokkerklub Chippa United van verkragting beskuldig, het besluit om nie die saak te los nie. Die saak het gister in die Goodwood landdroshof voorgekom. Die naam van die speler (22) wat van verkragting van ‘n 19-jarige vrou aangekla word, is aan Die Burger bekend, maar mag nie genoem word totdat hy in die hof op die aanklag pleit nie. Landdros Sean Lea het gister ‘n lasbrief vir die beskuldigde uitgereik omdat hy nie by die hof was nie, maar het dit laat oorstaan tot sy volgende verskyning op 15 Augustus. Bruce Hendricks, die beskuldigde se prokureur, het gesê sy kliënt is op die lughawe omdat hulle in Johannesburg aan die Nedbank-toernooi deelgeneem het. Die staat het intussen met die klaer, wat in die Ook-Kaap woon, gekonsulteer. Die staatsaanklaer, Almarie Chandler, het versoek dat die saak uitgestel word sodat DNS-toetse afgehandel kon word. Hendricks het versoek dat die saak finaal uitgestel word, maar Lea het dit nie toegestaan nie. Lea het gesê omdat die hof nie weet wanneer die bloedtoetse weggestuur is nie, kan hy nie die saak finaal merk nie. Die beskuldigde is op 6 Maart in hegtenis geneem en dieselfde dag op borgtog van R1000 in die Goodwood landdroshof vrygelaat. Die staat voer aan die man het die klaer op 9 Februarie in sy huis verkrag.

To Top