Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

Najwa sê sy het R4m. aan hom geleen en hy het dit verloor

Kaapstad – Taliep Petersen het voor sy dood niks besit nie. ‘n Doodse stilte het in hof 1 van die hooggeregshof hier geheers toe Taliep se weduwee dit gister as deel van haar getuienis aan die hof voorgelê het. Mev. Najwa Petersen, wat gesê het sy het nooit haar man se van aangeneem nie en dat sy  haar nooiensvan (Dirk) behou het, het gister self die getuiebank ingeneem na ‘n stilswye van langer as ‘n jaar. Sy is deur haar regsverteenwoordiger, adv. Johan Engelbrecht, as “me. Dirk” aangespreek. By tye het sy te sag gepraat en moes Engelbrecht aandui dat sy harder moet praat. Sy sal vandag getuig oor presies wat volgens haar op die aand van die moord in die egpaar se dubbelverdiepinghuis in Athlone gebeur het. Die hof het gister uit sy nate gebars terwyl Petersen, geklee in ‘n wit-en-swart uitrusting, vertel het van haar liefdevolle verhouding met Taliep, wat volgens haar “soos enige ander verhouding normaal was”. “Al waaroor ons verskil het, was die kinders. Hy wou ook nie hê dat ek moet rook nie en ek rook wel.” Hulle het ook verskil oor die feit dat sy haar van behou het. Sy het getuig dat sy nie ‘n voorval in April 2006 kan onthou toe sy haar man glo met ‘n mes in die nek gesteek het nie. Hofgangers het hierop hard gemurmureer en moes deur regter Siraj Desai stil gemaak word. Engelbrecht het vrae aan haar gerig oor haar verhouding met mnr. Fahiem Hendricks, die man wat die staat aanvoer die moord op Taliep beplan het. Sy het getuig dat sy drie keer aan hom geld geleen het en hom daarna aanhoudend gebel het om navraag oor die terugbetalings te doen. “Geld is vir my belangrik. Dit is my geld. Ek moes hom treiter.” Petersen het getuig dat sy vier geslypte diamante aan Hendricks gegee het om vir R250000 te verkoop. Hy kon dan R10000 vir hom vat. Kort voor die moord op Taliep het sy hom gedurig gebel om navraag te doen oor die diamante. “Ek het hom baie gebel, want hy sou sê ek moet hom oor 15 terugbel, of daar is nog ‘n oproep wat wag. Ek het begin paniekering raak.” Op ‘n vraag van Engelbrecht waarom sy paniekerig was, het Petersen gesê: “Ek het Fahiem vertrou. Maar nadat ek die diamante oorhandig het, het ek senuweeagtig begin raak. Fahiem het aanhou sê ek moenie bekommerd wees nie, hy het die koper van die diamante vertrou.” Petersen het ontken dat hulle ‘n verhouding gehad het. Sy het ook ontken dat Taliep hul huweliksake met ander mense bespreek het en dat hulle sou skei. Sy het aan die hof gesê hulle is binne gemeenskap van goedere getroud en indien hulle sou skei, sou sy vir hom 50% gee van “wat op my naam is”. Op ‘n vraag van Desai wat presies “op Taliep se naam was”, het sy geantwoord “niks”. Die hof het gehoor dat mev. Petersen maandeliks ‘n salaris van R100000 verdien het as deel van die familie-onderneming, Dirk Fruit. Sy het ook genoem dat sy R4 miljoen aan Taliep gegee het wat hy glo in twee onsuksesvolle transaksies (‘n piramideskema en diamante) verloor het.

To Top