Taliep wou skei na messteek in nek

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

HOF HOOR SY HET ‘DEMONIES’ VOORGEKOM

VERMOORDE SE SUSTER, DOGTER GETUIG

KAAPSTAD – Taliep Petersen het vir sy lewe gevrees en was vasbeslote om van sy vrou te skei na ‘n voorval waarin sy hom in sy slaapkamer met ‘n mes in die nek gesteek het. In die voorval – wat mev. Najwa Petersen gister by monde van haar regsverteenwoordiger erken het – het sy “demonies” voorgekom, het die hof gister gehoor. ‘n Stampvol hofsaal het ook gehoor hoe Taliep glo albei sy huwelike met sy ouer suster en vertroueling, mev. Tagmeeda Johnson, bespreek het. “Die eerste een was vir hom erg, maar die een (met mev. Petersen) was tien keer erger,” het sy gesê. Johnson het gesê haar broer en mev. Petersen se huwelik was die eerste paar jaar “lieflik”, maar het in die laaste vier jaar ‘n drastiese draai gemaak. Hy’t glo aan haar vertel dit werk nie en dat hy dit oorweeg om ‘n huis vir hom en sy kinders te koop. Na die messteek-voorval op 13 April 2006 – twee dae voor sy verjaarsdag – het Taliep glo aan Johnson gesê hy vrees vir sy veiligheid en die van sy kinders. Die egpaar het glo ook nie meer seks gehad nie. Johnson het gesê mev. Petersen het na die voorval by haar in die hospitaal (waar mev. Petersen opgeneem is vir evaluasie) gehuil en gesê Taliep wil haar los. “Ek het vir haar gesê: ‘As hy jou wou los, sou hy al.’ Ek kon nie vir haar sê wat ek vroeër met my broer bespreek het nie, want dit was tussen ons twee.” Adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC, vir mev. Petersen, het gesê sy kliënt erken die messteek-voorval, maar het geen herinnering daaraan nie. Intussen het nog ‘n getuie gister oor die aand getuig. me. Jawaahier Petersen, Taliep se naasoudste dogter, het getuig hoe sy die aand op haar bebloede pa afgekom het. “Ek kon eers niemand sien toe ek in die kamer ingaan nie, en my pa het gesê ek moenie uit-freaknie.” Nadat sy die ligte aangeskakel het, het sy net oral bloed gesien. Volgens haar het mev. Petersen agter Taliep gesit met ‘n mes in haar hand. “Haar oë was droopy en ietwat demonies. Sy het geklink soos iemand wat besete is.” Nadat Taliep die mes by mev. Petersen afgevat het, het hy dit aan die huishulp gegee en haar gevra om dit te gaan was. Hy wou nie gehad het die mesvoorval moes aan die publiek bekend gemaak word nie.

To Top