Tronkstraf vir vrou wat babas bedwelm

Beeld – Verslaggewer: Jan Gerber

Somerset-Wes – Die dagmoeder wat vroeër daaraan skuldig bevind is dat sy kinders in haar sorg sterk susmiddels ingegee het, is in die streekhof hier tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Monica Helm (64) is in Desember 2007 in hegtenis geneem. Sy het die Kinderland-dagsorgsentrum in Heldervue, Somerset-Wes, bedryf. Sy is op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind. Sy het gister haar hand voor haar oë gesit toe streeklanddros Marilyn Cannon bevind het tronkstraf is ‘n gepaste vonnis. “Die beskuldigde het die vertroue wat ouers in haar gestel het, geskend en hulpelose babas dwelms ingegee,” het Cannon gesê. Helm ontken steeds sy het die kinders die susmiddels ingegee en Cannon het bevind sy is sonder berou. “Die hof aanvaar dat sy die gevolge van haar bose dade verstaan het,” het Cannon gesê. “Dit is goed beplan en met soveel finesse uitgevoer dat sy die ouers mislei het,” het Cannon gesê. “Sulke gedrag is onvergeeflik.” Gess het aansoek gedoen om verlof tot appel teen die skuldigbevinding en vonnis. Cannon het dit van die hand gewys, waarop Gess aangedui het hy gaan ‘n petisie aan die regterpresident van die Wes-Kaap rig vir verlof tot appel. Cannon het hom sewe dae hiervoor gegee en Helm op borgtog van R5000 vrygelaat. Helm is ook daarvan skuldig bevind dat haar dagsorgsentrum nie na behore geregistreer was nie. Daarvoor is sy tot ‘n boete van R1000 of ses maande tronkstraf gevonnis.

To Top