Die Burger, artikel deur Maygene de Wee
Die verhoor van Raed Cupido en sy medebeskuldigde, Christopher Carelse, begin op 27 Mei in die streekhof in Kaapstad.
Die twee het Maandag nog ‘n verskyning in ‘n voorverhoor in die hof gemaak.
Hulle staan tereg op aanklagte van handel in dwelms, die onwettige besit van vuurwapens, die onwettige besit van ammunisie en die besit van verbode vuurwapens.
Die twee het verlede Woensdag in dieselfde hof verskyn en die saak is tot 9 Maart uitgestel sodat die verdediging en die staat die laaste administratiewe kwessie kon uitstryk.
Dit blyk dat die kwessies, wat ingesluit het die oorhandiging van videomateriaal en foto’s wat deel is van die staat se bewyslas en die versoek van die verdediging vir toegang tot die sakboekies van die twee polisiebeamptes wat Cupido in hegtenis geneem het, alles afgehandel is.
Die verhoor is vir drie dae, van 27 Mei tot 29 Mei, geskeduleer.
Daar is nog geen duidelikheid oor wanneer Carelse sy beoogde nuwe borgtogaansoek gaan bring nie. Hy het reeds einde verlede jaar laat blyk dat hy ‘n nuwe borgtogaansoek gegrond op nuwe feite wil bring.
Dit is onbekend wat die nuwe feite is.
Cupido is op 10 Junie deur speurders verbonde aan die Wes-Kaapse teenbende-eenheid by ‘n stoorplek in Roelandstraat, Kaaptstad, in hegtenis geneem. Sowat 15kg kokaïen is in sy besit gevind. Die dwelms het volgens die staat ‘n waarde van sowat R18 miljoen. Daar is ook ‘n Uzi-submasjiengeweer en AK-47 aanvalsgeweer saam met nog vyf vuurwapens en ammunisie gekry.
Carelse is ‘n maand later in hegtenis geneem.
Die staat het reeds in Julie aangevoer die twee is lede van ‘n misdaadsindikaat en die kokaïen is vermoedelik deur ‘n internasionale dwelmkartel die land ingesmokkel.
“Die enigste redelike afleiding wat gemaak kan word, is dat Cupido die eerste sogenaamde ontvanger van die kokaïen is wat deur ‘n internasionale dwwelmkartel na Suid Afrika gestuur is,” aldus die staat.
Die twee bly in aanhouding.
