Getuie betrek Najwa glo valslik

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

Hassen pas sy weergawe aan, hou haar advokaat vol

Kaapstad – Die selferkende fluitjieblaser in die Taliep Petersen-moordsaak “probeer sy bes om mev. Najwa Petersen valslik te inkrimineer”. Die opmerking van Petersen se regsverteenwoordiger aan mnr. Waheed Hassen (35) het gister ‘n beroering onder hofgangers veroorsaak. Dit was Hassen se tweede dag in die getuiebank. Regter Siraj Desai se geduld is telkemale beproef deur die talle hofgangers wat Hassen se opmerkings oor Petersen hardop beaam het. Desai is later genoop om hulle te waarsku dat hy die hof sal leegmaak. Hassen, wat beweer Taliep is deur Petersen self geskiet, het ten sterkste ontken dat hy Petersen op ‘n valse manier betrek. “Waarom sal ek ‘n persoon inkrimineer wat ek nie ken nie?” Adv. Johan Engelbrecht SC, wat Hassen heeldag onder kruisverhoor geneem het, het Hassen herhaaldelik gevra oor weergawes in sy verklarings wat verskil van sy getuienis nou in die hof. Die staat voer aan Petersen het mnr. Fahiem Hendricks gevra om die moord vir R100000 te beplan. Hendricks het vir mnr. Abdoer Emjedi gewerf, wat op sy beurt vir Hassen en mnr. Jefferson Snyders gekry het. “U is besig om u weergawe aan te pas,” het Engelbrecht by meer as een geleentheid gesê. Die betrokke bewerings gaan oor onder meer presies waar Snyders in die huis was toe Hassen ‘n kussing gaan haal het, die datum van sy eerste oproep aan Hendricks en hoeveel drade om Taliep se hande gedraai is. Hassen het gesê dit was vir hom “onwerklik” dat ‘n vrou by die dood van haar eie man betrokke was. Hierop het Engelbrecht geantwoord: “Presies, want ek wil dit aan u stel: Sy was nie”. Hassen het hierop geantwoord: “Sy was 100% betrokke.” Hy het ook getuig Taliep het “definitief” vir Petersen die aand van die roof met sy kop gestamp. ‘n Ontstelde Hassen het met sy wysvinger uitgestrek na Petersen in die beskuldigdebank gesê: “En beskuldigde een weet dit.” Die hof het ook getuienis gehoor dat daar moontlik na die tyd met die misdaadtoneel gepeuter is. Vrae het gister gedraai om ‘n kussing wat glo in die skietery gebruik is, asook ‘n lap wat in Taliep se mond gedruk is. Hassen het gesê hy “wil ook weet” wat van die veelbesproke kussing geword het, sowel as die lap. “Daar was geen lap in sy mond (toe ons daar weg is nie).” Hy het Petersen daarvan verdink dat sy self die lap in Taliep se mond gedruk het, maar toegegee dat dit slegs bespiegeling is.

To Top