Ma sê: Hy het net my seun gehelp

* Davison uit op borgtog na bystanddood

Rapport

Dr. Anrich Burger het al twee jaar voor sy beweerde bystanddood deur prof. Sean Davison iemand gekry om hom te help sterf van ‘n oordosis pille, maar sy maag is uitgepomp.

Toe hy in 2011 teen sy wil hospitaal toe gejaag is en bygebring is, het hy opnuut begin soek na iemand wat hom sal help.

“Hy het my seker tien keer ‘n dag gevra om hom te help. Hy het my selfs R1 miljoen aangebied om dit te doen, maar ek kon net nie,” vertel dr. Joseph Huskisson, Burger se vriend en gewese sakevennoot in ‘n mediese praktyd in die Strand.

Huskisson sê Burger kon glad nie sy hande na sy mond bring nie en hy weet nie wie het Burger met die eerste probeerslag gehelp nie.

Om sy vriend by te staan, het hy hom probeer moed inpraat en saam met Burger tyd spandeer. Hulle het onder meer al agt reekse van die televisie aksiereeks 24 gekyk.

Terwyl die karakters in die reeks die adrenaliengevulde werk van die teenterrorisme agent Jack Bauer volg, kon Burger niks vir homself doen nie.

“Jy moet verstaan ons praat hier van iemand wat geleef het vir die buitelewe. Skielik kon hy nie eens ‘n vlieg van sy voorkop af slaan nie.

“Sy arms was permanent blou soos wat hy alles probeer het om hulle te beweeg.”

Wilma du Pisani, Burger se ma, sê haar seun was juis op ‘n avontuur in Mosambiek in 2005 toe y en sy drie vriende ‘n ongeluk gemaak het. Burger se rug is gebreek.

“Daar was geen hulp naby nie en hy moes baie lank wag. Hy kon daarna net sy kop en skouers effens beweeg. Sy longe kon ook nie ten volle funksioneer nie. Hy kon nie eens op sy eie hoes nie, want dan kon hy verstik en versmoor.”

Hy het jare lank gehoop dat navorsing oor stamselreprouksie hom sou kon help, maar toe hy die hoop verloor, wou hy sterf.

Huskisson en Du Pisani sê Burger het reeds vliegkaartjies gekoop om by die Dignitas-kliniek in Switserland te gaan sterf.

Hy kon egter nie alleen gaan nie en niemand kon hulself sover kry om hom te help nie – veral nie sy gebroke ma nie.

“Hy het my ook gevra, maar ek kon dit net nie doen nie,”sê sy.

Huskisson onthou hoe hy op die vliegkaartjies afgekom het en dit opgeskeur het.

In November 2013 het Burger vir ‘n laaste keer by ‘n luukse hotel in die Kaapse Waterfront ingeteken. Hy is dood aan ‘n dodelike dosis van die chemiese middel fenobarbital, wat onder meer in epilepsie-medikasie voorkom. ‘n Oordosis onder die asemhalingstelsel en bewussyn. …

Intussen het Davison, stigter van Dignity SA, by ‘n konferensie oor genadedood en in ‘n onderhoud met News24 breedvoerig vertel wat gebeur het.

Davison het gesê Burger het self die voorskrif geskryf vir die medikasie en ure lank gesit en gesels in die hotelkamer voordat hy dood is.

Volgens Davison het net hulle twee geweet van die finale plan.

Huskisson bevestig dat hy niks vooraf geweet het nie.

“Ja, ek is steeds die moer in dat hy nou dood is. Hy was my beste vriend. Maar dis wat hy wou gehad het en ek dink dis verkeerd dat die professor nou gearresteer is en al die ou wonde weer oopgekrap word. En Anrich was ‘n gedetermineerde ou. As hy besluit het hy wil iets doen, was dit so.”

Du Pisani sê haar seun sou nie wou gehad het Davison moet van moord aangekla word nie.

“Hy het nie my seun vermoor nie. Hy het hom net gehelp.”

Davison is Woensdag op borgtog van R20 000 vrygelaat. Die staat het in die hof gesê hulle ondersoek nog sake nadat hulle deur Davison se skootrekenaar gewerk het. Nog Davison nog sy regspan wou kommentaar lewer.

To Top