Man weer vandag in hof na vrou se dood

Die Burger, Maygene de Wee

Die Kaapse sakeman wat daarvan aangekla word dat hy sy vrou in Februarie vanjaar vermoor het, verskyn weer vandag in die landdroshof in Wynberg.

Die saak teen Rob Packham (57) gaan waarskynlik vir verhoor na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas word.

Packham word daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Gill Packham (52), ‘n administratiewe beampte van die Springfield Convent School in Wynberg, vermoor het.

Haar verkoolde lyk is op 22 Februarie kort na 22:00 in die kattebak van haar uitgebrande groen BMW gevind. Sy is vroeër die aand deur haar dogter Nicola Packham (25) by die Dieprivierpolisiekantoor as vermis aangemeld.

Nicola het aan die polisie gesê haar ma is die oggend omstreeks 07:00 laas gesien toe sy haar huis in Rieslingstraat, Constantia, verlaat het om te gaan werk. Sy het nooit by die werk opgedaag nie.

Met sy laaste verskyning in die landdroshof het die staat gevra dat Packham sy luukse Audi Q5 aan die polisie oorhandig sodat hulle toetse daarop kan doen. Die polisie wou afdrukke van die loopvlak van die voertuig se bande neem.

Die hof het ook gehoor dat die polisie nog verklarings by getuies moet afneem en dat die DNS-uitslae van die bloed wat in Packham se voertuig en huis gevind is ook nog uitstaande is. Die staat het ook gewag op die uitslag van die lykskouing.

Brynmor Benjamin, staatsaanklaer, het gesê Packham is uitgeken in ‘n reeks foto’s.

Hy het met die verskyning gesê die staat het nog sowat twee maande nodig om die ondersoek af te handel.

Hy het gesê die staat wag ook nog op Packham se bankstate wat hulle versoek het.

 

To Top