Najwa ‘het moordmotief gehad’

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

Advokate konfronteer weduwee in ondervraging

Kaapstad – Mev. Najwa Petersen het ‘n motief gehad om ontslae te raak van haar man, Taliep. So het adv. Roelf Konstable, regsverteenwoordiger van een van die vermeende huurmoordenaars, dit gister aan Petersen gestel. Sy is gister in die hooggeregshof hier kruisondervra deur die regsverteenwoordigers van twee van haar medebeskuldigdes. Mnre. Waheed Hassen en jefferson Snyders het by monde van hul regsverteenwoordigers erken hulle was die aand by die huis waar Taliep vermoor is, maar hulle ontken die doodskoot is deur een van hulle afgevuur. Konstabel het aan Petersen gesê sy het haar man in die verlede met ‘n mes in sy nek gesteek en genoem dat Taliep veroorsaak het dat sy R4miljoen verloor het. “U het al die redes gehad (om hom dood te maak).” Volgens Petersen het Taliep voor sy dood “geld gemaak” en was die kwessie van die R4miljoen iets wat “jare gelede” gebeur het. Konstabel het gesê: “Dit is my instruksies van my kliënt (Snyders) dat u die twee beskuldigdes gehelp het om vir Taliep vas te maak. U het herhaaldelik aan Hassen gevra wanneer hulle gaan klaarmaak met Taliep.” Petersen het dit ontken. Volgens Konstable sou Snyders glo gesê het hy het nie die aand gekom “om iemand klaar te maak nie”. Snyders het glo aan Hassen gesê: “F-k die job. Los die vrou, jy kan mos sien die mense het probleme.” Konstabel het aan Petersen gesê sy het vroeër getuig dat daar geen kwade gevoelens tussen haar en Snyders bestaan nie. “Waarom sou hy die dinge opmaak?” wou Konstabel weet. “Ek het geen idee nie,” het Petersen geantwoord. Adv. Patrick Scott, vir Hassen, het dit aan Petersen gestel dat sy en Hassen alleen in die vertrek was nadat Snyders weg is. “Hassen het aan u gesê hy is nie bereid om voort te gaan nie. “U is inderdaad die persoon wat die vuurwapen gevat en die sneller getrek het.” Petersen het dit ontken.