Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

Weduwee getuig sy het niks met aanval op Taliep te doen gehad

Kaapstad – Mev. Najwa Petersen het haar man liefdevol omhels voordat sy van hom weggelei is en toegesluit is in hul hoofslaapkamer, van waar sy die “doodskoot” hoor afgaan het. ‘n Selfversekerde Petersen het gister op die tweede dag van haar getuienis in die hooggeregshof hier verduidelikings gehad vir die “kruks van die staat se saak”. Sy het gister ten sterkste ontken dat sy enigiets met die moord op haar man, Taliep, te doen gehad het. Die byna 100 hofgangers in hof 1 het doodstil geluister na haar weergawe van die gebeure op die aand van 16 Desember 2006. Sy het getuig hoe sy wakker gemaak en gewing is om vir die rower “met die balaklawa” geld uit die kluis te haal. Die hof het gehoor daar was “tussen R40000 en R50000″ en $300000. Onderweg na ‘n ander vertrek het sy vir Taliep op sy knieë in die sitkamer gesien en by die rowers gepleit om hom nie te beseer nie. Sy is later in die hoofslaapkamer toegesluit en het die skoot hoor afgaan. Gebeure daarna was vir haar vaag, het sy getuig. Petersen het kalm ontken dat sy huurmoordenaars gekry het om Taliep te laat vermoor of dat sy enigiemand vir die doel betaal het. Sy het “nee” geantwoord toe haar regsverteenwoordiger, adv. Johann Engelbrecht SC, haar gevra het of sy met mnr. Fahiem Hendricks saamgesweer het om Taliep te vermoor. Die staat voer aan sy het Hendricks R100000 betaal om die moord te laat pleeg. Petersen het ook ‘n verduideliking gehad vir die tjek vir R100000 wat sy enkele dae na die moord laat wissel het. Haar oorlede pa, mnr. Suleiman Dirk, wou die geld leen omdat hy namens hul familieonderneming, Dirk Fruit, voertuie gekoop en verkoop het. Sy het getuig sy het teenoor die polisie haar storie verander oor haar verhouding met Hendricks. Sy het Maandag getuig sy en Hendricks was dae voor die moord baie in verbinding omdat sy hom diamante van R250000 gegee het om te verkoop. Sy het egter in polisie-ondervraging met hom “saamgestem” dat hulle twee in ‘n verhouding was (wat volgens haar nie die waarheid is nie). Sy het gister gesê die rede hiervoor was dat sy onder die indruk was dat ‘n mens ‘n lisensie moes hê om diamante te verkoop. “En ek het nie een gehad nie.”

To Top