Najwa se top-advokaat bedank glo oor geld

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

KAAPSTAD – Een van die land se voorste senior advokate, wat mev. Najwa Petersen verteenwoordig, het kort voordat die verdediging gister sy saak moes begin, sy dienste beëindig. Adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC het gister in ‘n verrassende wending in die hoggeregshof hier gesê hy onttrek hom weens “‘n tekort aan instruksies” aan die saak. Mev. Petersen word aangekla van die moord op haar man, Taliep Petersen. Mnr. Reaz Khan, die opdraggewende prokureur, het later aan die media gesê dit is weens ‘n tekort aan geld. Khan verteenwoordig steeds vir mev. Petersen as opdraggewende prokureur. Von Lieres und Wilkau is die derde advokaat wat mev. petersen se verdediging behartig het. Adv. Craig Webster en mnr. Norman Snitcher het haar eerste borgtogaansoek behartig. Adv. herbert Raubenheimer SC en mnr. John Riley het daarna probeer om haar op borgtog vrygelaat te kry. Al die pogings het voor streeklanddros Robert Henney misluk. Familielede van Taliep, sowel as die families van die ander beskuldigdes in die saak (mnre. Abdoer Emjedi, Waheed Hassen en Jefferson Snyders), het na die hofverrigtinge gesê hulle is teleurgesteld met die nuwe verwikkeling. “Ons soek antwoorde. Ons a familie wil hê die saak moet klaarmaak,” het mnr. Igsaan Petersen, Taliep se broer, gesê. Mev. Petersen, geklee in ‘n wit-en-swart kolletjiesrok en swart kopdoek, het gisteroggend bekommerd gelyk toe sy in die beskuldigdebank ingeskuif het. Von Lieres und Wilkau het onmiddellik nadat die verrigtinge begin het aan regter Siraj Desai gesê sy mandaat is Vrydag beëindig. Hy het kort daarna die hof verlaat. Khan, wat ‘n toga by ‘n staatsaanklaer geleen het, het die regter toegespreek en gevra dat die saak tot Vrydag uitgestel word. Hy is ook bevoeg om namens mev. Petersen in die hof te verskyn, al is hy nie ‘n advokaat nie. Die regter het daarop gewys dat mev. Petersen reeds drie keer van regverteenwoordigers verander het. Volgens hom sal die uitstel baie partye benadeel, waaronder die hof, die staat en belangstellendes in die saak. Khan het aan Desai gesê sy opdrag van mev. Petersen is dat sy ‘n advokaat versoek. Desai het Khan gvra om weer instruksies van mev. Petersen te aanvaar “omdat ek (Desai) gaan beveel dat u aangaan met die saak”. Die stelling is met luide applous uit die openbare galery begroet. By Khan se terugkeer het hy gesê: “Mev. Petersen dring aan op ‘n advokaat.” Khan het bygevoeg dat hy nie self voorbereid was vir gister nie en nog ‘n verweer moet voorberei. Volgens Desai kan die afleiding gemaak word dat dit ‘n taktiese onttrekking is. Khan het gesê daar is geen kwade trou van sy kant af nie. Indien die hof die uitstel toestaan, sal hy teen Vrydag gereed wees. Desai het hierop gesê die hof kan nie as gyselaar gehou word weens die “grille” van een beskuldigde nie en het die saak tot vandag uitgestel. Hy het Khan daarna gemaan om ‘n besluit te neem oor wat die volgende stap sal wees. Teen druktyd gisteraand het Khan aan Die Burger gesê: “Ons het nog nie besluit wat ons gaan doen nie, en ek is besig om dit met my kollegas te bespreek. Ons sal wel môre (vanoggend) weet en dinge dan verder vat.”

To Top