Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

David Kramer betaal haar R300000 kort voor moord

Kaapstad – Die weduwee van die vermoorde Taliep Petersen kan nie verduidelik wat van byna R300000 geword het wat die sanger David Kramer kort voor die moord aan haar betaal het nie. Hofgangers in hof 1 in die Kaapse hooggeregshof het gister herhaaldelik in ongeloof gesug terwyl die staat getuienis gelei het oor die spoor van Taliep se geld. Mev. Najwa Petersen, Taliep se weduwee, het vroeër vandeesweek getuig dat hy “niks” ten tyde van sy dood besit het nie. Mev. Petersen en drie mede-beskuldigdes staan tereg op aanklag van die moord op Taliep Petersen in Desember 2006. Gister het die staat, wat mev. Petersen ‘n tweede dag kruisondervra het, aan haar gevra wat van Taliep se geld geword het. Die staat voer aan Taliep se geldbelange dra by tot die motief vir die moord. Mev. Petersen het getuig dat sy nie seker is wat van Taliep se geld geword het nie, maar dat die meeste van sy geld in haar familie-onderneming, Dirk Fruit, gestort is. Taliep het van die geld gebruik om Amerikaanse dollars te koop, wat hy dan later weer op die swartmark sou verkoop, het sy getuig. Met sy ander geld het hy onder meer betrokke geraak by sake-transaksies waarvan die meeste skeefgeloop het. Die egpaar se sjegs het van die transaksies geweet, het Mev. Petersen getuig. Op die vraag van adv. Shareen Riley, vir die staat, wat geword het van R280000 wat Kramer in Oktober 2006 in mev. Petersen se Namibiese bankrekening inbetaal het, het sy geantwoord: “Ek is nie seker aan wie ek die tjeks uitgeskryf het nie.” Kramer het vroeër getuig dat mev. Petersen geld vir musiek-produksies aan hom en Taliep sou voorskiet, en dat dit dan later as lenings terugbetaal sou word. Riley het aan mev. Petersen gesê daar was in Junie 2007 ‘n saldo van R43 in die rekening. “Wat het van die geld geword?” wou Riley weet. Mev. Petersen het geantwoord dat haar broers meer sou weet. Op ‘n vraag van die staat wat sou gebeur het indien die Petersens sou skei, het sy gesê Taliep sou geregtig wees op 50% van haar inkomste. “Taliep sou nooit die drie huise (van my familie) gevat het nie. Hy het geweet dit was in my naam. Hoewel hy daarop geregtig sou wees, weet ek hy sou dit nooit gevat het nie.” Riley het gevra of ‘n egskeiding nie ‘n verwoestende effek op haar familie-onderneming sou gehad het nie – indine Taliep op sy 50% aanspraak sou maak. Mev. Petersen het dit ontken. Sy het getuig sy “weet nie” waarom sy vroeër die indruk aan die hof wou skep dat Taliep by diamanttransaksies en die verkoop van Amerikaanse dollars betrokke was nie. Riley het gesê die indruk is in die tweede borgtogaansoek geskep dat Taliep by diamant- en slinkse transaksies betrokke was en dat hy mnr. Fahiem Hendricks geken het. Die staat voer aan Hendricks het die moord beplan. Mev. Petersen het vroeër getuig dat sy hom betaal het vir diamante wat hy namens haar moes verkoop. Petersen het gesê sy het na haar inhegtenisneming begin vermoed dat Hendricks agter haar man se moord is. Volgens haar wou hy $300000 (meer as R2 miljoen) steel wat in ‘n kluis van die huis was. Vroeër gisteroggend het mev. Petersen getuig oor die verklaring wat sy op 18 Desember 2006 aan die ondersoekbeampte, kapt. Joe Dryden, gemaak het. Volgens die aanvanklike verklaring het sy die doodskoot gehoor nadat sy met Taliep se suster oor die foon gepraat het. Sy het gister gesê dit was nie die geval nie en dat die skoot tydens die oproep afgegaan het. Die verhoor is tot Maandag uitgestel.

To Top