149 Klagte teen 17 oor smokkelary

Sluit nege van staat in

Die Burger, Verslaggewer – Malherbe Nienaber

Altesaam 149 aanklagte is teen 17 mense aanhangig gemaak wat van perlemoensmokkelary en rampokkery beskuldig word. Hulle het gister weer in die hof in Kaapstad verskyn.

Die 17 sluit nege amptenare van die departement van landbou, bosbou en visserye in wat in Gansbaai woon en wat op 5 Maart deur die Valke in hul huise in hegtenis geneem is.

Die groep word ook deur aanklagte van korrupte aktiwiteite deur staatsamptenare, diefstal, regsverdydeling, die koop en / of verkoop van gesmokkelde mariene hulpbronne en die vervoer daarvan in die gesig gestaar.

Al 17 die beskuldigdes het gisteroggend in die streekhof in Kaapstad verskyn, waar die saak voorlopig tot 25 en 26 April vir hul borgaansoeke uitgestel is.

Hulle sal op 10 April verklarings vir die aansoeke indien.

Die hofsaal was byna volgepak toe die 17 mans en vroue in die beskuldigdebank gestaan het, terwyl talle familielede van hulle in die galery gesit het.

Die nege van Gansbaai is Adam Steven Baaijies (39), Rudolf Andrew Louw (35), Allistair Maans (42), Craven Mxaku (42), Linda Nkeleni (42), Winston Bush (36), John Karelse (48), Nomvuyo Motloung (43) en Zihle Diko (38).

Solomon Sauls (45), Frederick Myburgh (46), Dennnis Swart (37), Donnovan Williams (33), Eugene Heradien (44), Preston Julies (48), Richard Malan (49) is die ander beskuldigdes.

Hulle het aanvanklik op 7 Maart in die hof in Hermanus verskyn.

Die aanklagte teen hulle hou verband met 40 voorvalle tussen 12 September en 20 November 2016.

Tydens hul hofverskyning was daar ‘n gespook tussen die staansaanklaers, prokureurs en die landdros om op ‘n gepaste datum vir die voorbereidings en aanhoor van die borgtogaansoeke ooreen te kom.

Toe die beskuldigdes gehoor het dat hulle eers laat in April weer moet verskyn, het hulle en hul ondersteuners in die hof hardop gesug.

Enkele swaargewapende polisielede met koeëlvaste baadjies aan het in die hofsaal gestaan en die groep na en van die aanhoudingselle begelei.

Een van die prokureurs wat sommige van die beskuldigdes verteenwoordig, het kapsie gemaak dat daar so lank gewag moet word om met die borgtogaansoeke te begin en het gevra of ‘n ander landdros dit nie vroeër kan aanhoor nie.

Die landdros het egter gesê dit is onwaarskynlik dat die saak vroeër aangehoor sal kan word en hoewel die Strafproseswet vereis dat borgtogaansoeke spoedig afgehandel moet word, word die klem ook op regverdigheid en billikheid geplaas.

Die landdros het gesê sy sal nie behoorlik op ander sake kan fokus as sy voorkeur aan die saak moet gee nie.

Hoewel daar vroeër berig is dat ander beskuldigdes ook moontlik by die saak gevoeg kan word, is daar nog nie ander verdagtes in hegtenis geneem nie, het adv. Blaine Lazarus, staatsaanklaer, gesê.

Met die beskuldigdes se vorige verskynings in die hof het die staat aanvanklik aangedui dat hy die borgtog vir hulle sal teenstaan.

Die klagstaat is nog nie gefinaliseer nie.

To Top