Packham gaan skuld ontken

Rapport

Een van die getuies wat die staat in die moordsaak teen Rob Packham (57) wil roep, is ‘n man wat vir die polisie gesê het hy het iemand met ‘n blou kortbroek gesien in die omgewing waar Packham se vrou in die kattebak van haar BMW aan die brand gesteek is.

Die polisie glo dit was Packham in die kortbroek.

Packham se suster, Judith Markwell, en nog ‘n inwoner van Constantia is ook op die getuielys. Verder is twee vriende van die vermoorde Gill Packham (55) op die staat se lys van getuies – glo omdat hulle intieme besonderhede het van die beskuldigde se beweerde liefde vir seksspeelgoed.

Adv. Susan Galloway, aanklaer, het Vrydag in die hof gesê daar is tot dusver sewe getuies op die staat se lys.

Galloway is ook die aanklaer in die moordsaak teen Henri van Breda.

Volgens Ben Mat[t]hewson, Packham se prokureur, gaan sy kliënt skuld ontken.

Packham is Vrydag op borgtog van R50000 vrygelaat en sal tot die verhoor in huisarres in sy huis van R4,5 miljoen in Constantia bly. Hy word daarvan aangekla dat hy Gill in die huis vermoor, haar liggaam in die kattebak van haar groen BMW gelaai en dit by die Dieprivier-stasie aan die brand gesteek het.

In’n verklaring aan die hof het Packham gesê: “Ek treur oor die verlies van my vrou. Haar heengaan was baie skielik en onverwags en my aanhouding skeur my weg van my kinders. Dis vir ons almal ongelooflik pynlik.”

Sy dogters, Kerry en Nicola, het mekaar lank omhels nadat hul pa borgtog gekry het. Packham was duidelik ontroer.

Later, buite die hof, het hy duidelik geirriteerd met die media sy dogters se hande gevat en saam met hulle na hul motor gestap.

Mat[t]hewson het vir die hof gesê Packham verdien sowat R80000 per maand as bestuurder van ‘n koeldrankmaatskappy.

Die polisieondersoek duur voort en Packham verskyn weer op 8 Mei in die hof.

To Top