Packham ‘baie na aan sy dogters’

Die Burger, Warda Meyer

Borgtog van R50,000. In huisarres vir die volgende twee weke, maar hy mag werk toe gaan.

Dit is van die borgtogvoorwaardes wat Rob Packham opgelê is. Hy word daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Gill (55), vermoor en haar BMW aand ie brand gesteek het met haar lyk in die kattebak.

Susan Galloway, senior staatsaanklaer, het gister in die landdroshof in Wynberg, Kaapstad, gesê die saak teen hom is ‘n bylae 5-oortreding en die staat sal nie borgtog teenstaan nie. Die staat en die verdediging het ooreengekom op streng voorwaardes vir borgtog.

Packham (57) se regsverteenwoordiger, Ben Mathewson, het ‘n verklaring van sy kliënt in die hof voorgelees waarin hy sê dat hy sy hofsaaks sal bywoon. Hy sê hy het reeds sy paspoort aan sy prokureur gegee. “Indien borgtog aan my toegestaan word, sal ek my verskeie verpligtinge kan nakom. Ek is baie na aan my twee dogters en my jongste, Nicola, is steeds afhanklik van my,” lui die verklaring.

Landdros Goolam Bawa het voor die hofverrigtinge ‘n versoek van die media toegestaan dat foto’s in die hof geneem mag word, maar dat die beskuldigde se gesig nie gewys mag word nie omdat ‘n uitkenningsparade nog gehou moet word.

Die hof het bevind daar is geen bewyse dat Packham ‘n vlugrisiko is of dat hy met die getuienis sal inmeng nie.

Packham mag werk toe gaan en sal toegelaat word om met sy regspan te konsulteer. Hy moet die ondersoekbeampte in kennis stel as hy sy adres verander. Hy mag nie die Wes-Kaap sonder die toestemming van die ondersoekbeampte verlaat nie en mag ook nie binne ‘n kilometer van enige hawe hughawe kom nie.

Hy sal tot 30 Maart in huisarres wees, waarna ander reëlings getref sal word.

Bawa het die saak tot 8 Mei vir verdere ondersoek uitgestel.

To Top