17 in hof oor perlemoen en rampokkery

Die Burger, Jana Breytenbach

Altesaam 17 beskuldigdes het gister in die landdroshof in Hermanus op verskeie aanklagte van perlemoensmokkelary en rampokkery verskyn. Dit volg nadat die Valke Maandag op die beskuldigdes se huise toegeslaan het en hulle aangekeer het.

Die eerste nege beskuldigdes is amptenare van die departement van landbou, bosbou en visserye.

Hulle is Adam Steven Baatjies (39), Rudolf Andrew Louw (35), Allistair Maans (42), Craven Mxaku (42), Linda Nkeleni (42), Winston Bush (36), Joh Karelse (48), Nomvuyo Motloung (43) en Zihle Diko (38). Hulle woon almal in Gansbaai.

Die res is Solomon Sauls (45), Frederick Myburgh (46), Dennis Swart (37), Donnovan Williams (33), Eugene Heradien (44), Preston Julies (48), Richard Malan (49) en Cotle May (49).

Julies is ook die vermeende leier van die Terrible Josters-bende in die Overstrand. Die bende het hul hoofsetel in die kusdorpie Hawston, berig Maygene de Wee.

Luidens die klagstaad staan hulle tereg op sewe aanklagte waaronder twee van rampokkery, korrupte aktiwiteite deur staatsamptenare, diefstal, regsverydeling, die koop en/of verkoop van onwettige mariene hulpbronne en die vervoer daarvan.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolging, het bevestig die beskuldigdes het almal gisteroggend in Hermanus in die hof verskyn.

Die staatsaanklaers, adv. Blaine Lazarus en adv. Nico Breyl, het die hof versoek om die saak tot 14 Maart uit te stel omdat daar ander beskuldigdes is wat by die saak gevoeg moet word.

“Alle partye het ingestem tot die uitstel,” het Ntabazalila gesê.

To Top