Bloed lei tot moordaanklag

Die Burger, deur Warda Meyer

Hy het tranerig geraak toe sy regsverteenwoordiger die Wynberg-landdroshof meegedeel het dat sy vrou vandag begrawe word en dat hy graag sy dogters by die begrafnis wil ondersteun.

Rob Packham (57) gaan egter vandag agter tralies in die Pollsmoor-gevangenis deurbring wanneer sy vrou, Gill (57) begrawe word.

Bloed in die egpaar se gedeelde en suite-badkamer, in die motorhuis en aan die binnekant van Packham se motordeur het daartoe gelei dat hy van haar moord aangekla word. Gill was ‘n administratiewe beampte by die Springfield Convent in Wynberg.

Rob se regsverteenwoordiger, Ben Mathewson, het gesê sy kliënt is nie ‘n vlugrisiko nie en dat hy sy dogters, Kerry-Ann en Nicola, by hul ma se begrafnis wil ondersteun.

Die twee dogters het ure lank gewag vir hul pa om te verskyn is ondersteun deur ander familielede.

Gill se suster, Vivian Humphrey, was ook in die hof.

Rob het ‘n wit geruite hemp en blou langbroek gedra. Hy word ook van regsverydeling aangekla. Hy het vlugtig oogkontak met sy familie gemaak toe hy uit die hofselle die hofsaal ingebring is.

Die staatsaanklaer, Brynmor Benjamin, het gesê Rob was die oggend van Gill se verdwyning veronderstel om by die werk te wees by Twiza-koeldranke waar hy die hoofbestuurder is, maar sy selfoonsein is bespeur deur selfoontorings in Dieprivier en Constantia.

Die staat beweer Rob het daardie oggend ‘n kollega gebel en gesê dat die kollega moet sê hulle twee was in ‘n vergadering.

Die oggend is ‘n voertuig sonder ‘n registrasienommer, soortgelyk aan Rob se voertuig, omstreeks 07:35 naby die toneel opgemerk waar Gill se BMW later die aand uitgebrand het. Die beskrywing van die bestuurder pas Packham glo.

Die polisie het bloed in die motorhuis van die Packhams se huis in Constantia gevind, asook aan die binnekant van Rob se motordeur aan die bestuurderskant en in die en suite-badkamer van die huis se hoofslaapkamer.

DNS-monsters wat van haar dogters geneem is, het bevestig dat dit wel haar lyk in die kattebak van die uitgebrande motor was.

Die staat voer aan dat Packham en Gill huweliksprobleme gehad het en dat Packham ook aan ‘n verslawing gely het. Niks meer daaroor is gesê nie.

Daar was ook SMS’e en WhatsApp-boodskappe waarin Packham sê dat hy daaraan dink om dinge tussen hom en sy vrou te beëindig.

Die staat voer aan dat indien Packham op borgtog vrygelaat word materiële bewysstukke dalk verlore kan gaan. Hulle is steeds na Gill se selfoon en ander bewysstukke op soek.

Gill, ‘n administratiewe beampte by die Springfield Convent in Wynberg, is op Donderdag 22 Februarie as vermis by die Dieprivier-polisiekantoor aangemeld, na verneem word deur haar dogter Nicola wat in Johannesburg woon. Dit was nadat sy haar ma die dag glad nie in die hande kon kry nie.

Daardie Donderdagaand is die polisie na waar die voertuig gebrand het. Nadat die vuur geblus is, het hulle die verkoolde lyk van ‘n vrou in die kattebak aangetref.

‘n Week later is Packham by hul huis in hegtenis geneem.

Mathewson het aangevoer dat Rob sy volle samewerking aan die polisie gegee het en nooit die regsgebied verlaat het nie. Beeldmateriaal van iemand wat Gill se BMW bestuur het, is aan die egpaar se kinders gewys, maar hulle kon nie hul pa as die bestuurder uitken nie.

Hy sê die staat het ook nie ‘n moordwapen nie.

Hy sê die staat het ook geen bewyse dat Rob vir Gill aangerand het en haar dood veroorsaak het nie.

Sy kliënt is ook glo sonder ‘n lasbrief en dus onwettig in hegtenis geneem.

Landdros Goolam Bawa het die saak tot Vrydag uitgestel.

To Top