Foto Skok: Die brandende BMW waarin Gill se lyk was

Die Burger, deur Marelize Barnard

Skokkende foto’s van die vlamme wat die lyk van die vermoorde Gill Packham (55) van Constantia, Kaapstad, agerin haar motor verkool het, het aan die lig gekom.

Die foto’s wys hoe Gill se motor, ‘n donkerkleurige BMW, agter die Dieprivier-spoorwegstasie in ligtelaaie is, met ‘n vreemde sirkel vlamme daarom heen.

Die lyk van Gill, ‘n administratiewe beampte aan die Springfield-kloosterskool in Wynberg, is in die kattebak van die motor gevind.

Haar man, Rob (57), verskyn vandag in die Wynberg-landdroshof in verband met haar dood. Hy is Donderdagaand laat by hul huis in Constantia in hegtenis geneem en is sedertdien in polisie-aanhouding.

Rob het glo by die toneel by die Dieprivier-spoorwegstasie opgedaag nadat sy oorlede vrou se motor gevind is.

Dit is hier waar hy glo gesê het hy wou Donderdag sy vrou by die Wynberg-polisiekantoor as vermis gaan aanmeld, maar is daar na die Dieprivier-polisiekantoor verwys.

Dit blyk egter dat hy toe nooit by die Dieprivier-polisiekantoor opgedaag het nie en dat die egpaar se dogter Nicola, wat in Johannesburg woon, haar ma as vermis aangemeld het nadat sy haar die hele dag nie in die hande kon kry nie.

Gill se hande was vasgebind toe haar lyk in die uitgebrande motor gekry is.

Daar is ook glo bewyse dat sy ‘n harde hou teen die kop gekry en eerder daarvan dood is as dat sy lewend in haar motor aan die brand gesteek is.

Die polisie het ook lasbriewe bekom om die Packham-egpaar se huis vir bewyse te deursoek.

Rob kan van vandag in die Wynberg-landdroshof aansoek doen om op borgtog vrygelaat te word. As die staat so ‘n aansoek teenstaan, kan die landdros besluit om die verrigtinge uit te stel vir ‘n amptelike borgtogaansoek. Rob sal dan in aanhousing bly totdat die landdros die aansoek aangehoor het.

To Top