2 bel polisie oor huisbraak; word gevang oor perlemoen

Die Burger, artikel deur Maygene de Wee

‘n Man en ‘n vrou is gister in die vroeë oggendure weens die onwettige besit van perlemoen by ‘n huis in Mowbray in hegtenis geneem nadat die polisie op ‘n huisbraak-klagte gereageer het.

Daar is beslag gelê op perlemoen ter waarde van sowat R10 miljoen.

Lt.kol. Andre Traut, ‘n polisiewoordvoerder, sê polisielede van die Mowbray-polisiekantoor is ontbied na ‘n huisroof in Strubensweg, Mowbray. By die huis het hulle besef die perseel word as ‘n verwerkingsaanleg vir perlemoen gebruik. Hulle het die perseel deursoek en afgekom op sowel verwerkte as onverwerkte perlemoen, asook toerusting wat gebruik word om die perlemoen te verwerk.

Volgens Traut word die perlemoen na die buiteland uitgevoer.

Die man en vrou wat in hegtenis geneem is, het aan die polisie gesê swe mans het by die huis ingebreek en hulle vasgebind. Die mans het gevlug met perlemoen wat hulle gesteel het.

Die twee, albei in hul 30s, het alarm gemaak nadat die rowers gevlug het.

Hulle sal Maandag in die landdroshof in Wynberg verskyn.

To Top