ANC-vrou in 2019 verhoor na moord

Die Burger, verslag deur Jana Breytenbach

Magdaleen (Maggie) Titus, die vrou wat aangekla word van die moord op haar man, safsersant Preston Titus van oudtshoorn, sal in die rondgaande hooggeregshof in Oudtshoorn verhoor word.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolgings, het gister bevestig Magdaleen en haar medebeskuldigdes, Natashia Stuurman en Justice Mooi, se saak is na die hooggeregshof oorgeplaas. ‘n Voorverhoor sal op 15 November in die rondgaande hooggeregshof in George plaasvind.

Die voorgestelde verhoordatum is van 25 Februarie tot 22 Maart.

Ntabazalila het bevestig die klagstaat is gister aan die beskuldigdes oorhandig en die saak is tot November uitgestel. Hulle het in die plaaslike landdroshof in Oudtshoorn verskyn.

Hulle staan tereg op aanklagte van moord met voorbedagte rade op Preston, wat in Desember 2017 vermoor is. Hulle staan verder tereg op aanklagte van die besit van gevaarlike wapens.

Preston se lyk is op 2 Desember 2017 met steekwonde op ‘n bed in sy huis by die Infanterieskool in Oudtshoorn gekry.

Magdaleen was voorheen ‘n stadsraadlid in Oudtshoorn op die ANC se proporsionele lys en lid van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee. Die ANC het haar geskors hangende die uitslag van die hofsaak.

Magdaleen en Mooi se borgtogaansoeke is vroeër van die hand gewys. Op 7 Mei is Magdaleen egter borgtog van R30000 in die hooggeregshof in Kaapstad toegestaan.

Stuurman is op borgtog van R15000 vrygelaat. Sy was sewe maande swanger tydens haar borgtogaansoek in Januarie.

‘n Vierde beskuldigde, Sixabiso Klip, is in Januarie in die streekhof tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Vroeër is berig dat Klip, Magdaleen se voormalige motorbestuurder, in sy pleitooreenkoms gesê het Stuurman was bewus van die moordplanne.

In die pleitooreenkoms het hy Magdaleen as baasbrein van die moord op haar man uitgewys. Sy het haar man se vermeende huurmoordenaars glo R30000 elk aangebied.

To Top