Sindikaat-verdagtes binnekort verhoor

Die Burger, artikel deur Jana Breytenbach

Die saak teen 17 vermeende perlemoensindikaatlede wat van korrupsie en rampokkery aangekla word, is by gereed om na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas te word.

Die beskuldigdes, van wie nege vir die departement van landbou, bosbou en visserye werk en in Gansbaai woon, is in Maart in hegtenis geneem.

Die groep staan tereg op 149 aanklagte van onder meer rampokkery en smokkelary, asook aanklagte van korrupte aktiwiteite deur staatsamptenare, diefstal, regsverydeling, die koop en/of verkoop van gesmokkelde mariene hulpbronne en die onwettige vervoer daarvan.

Adv. Blaine Lazarus, staatsaanklaer, het gister in die streekhof in Kaapstad gesê die staat het die sertifikaat van die nasionale direkteur van openbare vervolging ontvang, wat die eerste drie aanklagte bekragtig dat die beskuldigdes in gevolge die Wet op Georganiseerde Misdaad aangekla word.

Lazarus het gesê hy het die nader besonderhede aan die onderskeie regspanne oorhandig.

Hy het versoek dat die saak uitgestel word tot 23 November sodat die voorgestelde datum vir die eerste voorverhoor in die hooggeregshof bevestig kan word. Die saak sal dan na alle waarskynlikheid oorgeplaas word.

Die staat beweer dat staatsamptenare perlemoen waarop die polisie beslag gelê het aan die gemeenskap terugverkoop het.

Mense wat die perlemoen gekoop het en volgens die staat deel van die sindikaat is, is die oorblywende tien beskuldigdes.

Die staatsamptenare was ook glo by in gevalle waar onwettige vragte perlemoen vervoer is.

Die sindikaat was glo in die Wes-Kaapse dorpe Gansbaai, Hermanus, Hawston, Pearly Beach, Bredasdorp, Stanford en Kuilsrivier bedrywig.

Die nege amptenare van Gansbaai wat tereg sal staan is Adam Steven Baaijies (39), Rudolf Andrew Louw (35), Allistair Maans (42), Craven Mxaku (42), Linda Nkeleni (42), Winston Bush (36), John Karelse (48), Nomvuyo Motloung (43) en Zihle Diko (38).

Die ander beskuldigdes is Solomon Sauls (45), Frederick Myburgh (46), Dennis Swart (37), Donovan Williams (33), Eugene Heradien (44), Preston Julies (48), Richard Malan (49) en Cotle May (49).

To Top