Die saak teen sewe van die agt mans wat op 19 Julie 2024 in Stilbaai met 400kg kokaien in hul besit betrap is, is tot 28 Augustus vir nog ‘n voorverhoor uitgestel.
Een van die agt mans, die 52-jarige Alan Bushby, is op 17 April vanjaar na ‘n pleit-en-vonnisooreenkoms in die hooggeregshof in Kaapstad 15 jaar direkte gevangenisstraf weens handel in dwelms opgelê.
Bushby is aanvanklik ook van moord aangekla, maar het volgens inligting skuld ontken op die aanklag. Die hog het gister gehoor die staat sukkel om ‘n Serwiese tolk te vind om verrigtinge vir drie van die beskuldigdes – Nemanja Vuckovic (31), Marko Ninic (41) en Josip Ivanovic te tolk.
Die drie staan saam met die Suid Afrikaners Renaldo Beukes (35), Dicky Johan Benzien (50), Matthew Fourie (23) en Jordan Cullingworth (31) op aanklagte van moord en handel in dwelms tereg.
Vuckovic, Ninic en Ivanovic word ook daarvan aangekla dat hulle die Immigrasiewet oortree het en sedert Julie 2024 onwettig in die land is.
Luidens die opsomming van wesenlike feite is ‘n rubberboot op 18 Julie 2024 by die hawe in Stilbaai te water gelaat met Beukes, Benzien, Bushby en Ninic aan boord.
Die boot was volgens die staat ure lank uit op die water. Dit het later na die hawe teruggekeer waar nog kanne diesel volgens die staat opgelaai is, asook ‘n onbekende persoon, wat later vermoor is.
Volgens die staat is die boot terug na die oop see waar dit 14 blokke kokaien opgelaai het. Die kokaien is volgens die staat sowat R252 miljoen werd. Dit het meer as 400kg geweeg.
