Een van die agt mans wat op 19 Julie 2024 in Stilbaai met 400kg kokaien in hul besit betrap is, is na ‘n plei-en-vonnisooreenkoms in die hooggeregshof in Kaapstad 15 jaar direkte gevangenisstraf vir handel in dwelms opgelê.
Die 52-jarige Alan Bushby is in April gevonnis.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het gister gesê vyf jaar van die 15 jaar is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat Bushby hom in die tydperk nie aan soortgelyke misdrywe skuldig maak nie.
Bushby gaan in die saak getuig teen sy medebeskuldigdes, Renaldo Beukes (35), Dicky Johan Benzien (50), Matthew Fourie (23), Jordan Cullingworth (29), Nemanja Vuckovic (31), Marko Ninic (41) en Josip Ivanovic (39).
Beukes, Benzien, Fourie, Culllingworth en Bushby is almal Suid-Afrikaners. Vuckovic, Ninic en Ivanovic is van Serwië.
Hulle staan tereg op aanklagte van moord en handel in dwelms. Vuckovic, Ninic en Ivanovic word ook daarvan aangekla dat hulle die Immigrasiewet oortree het en seder Julie 2024 onwettig in die land is.
Luidens die pleit-en-vonnis-ooreenkoms het ene Smith vir Bushby in Julie 2024 genader en gevra of hy sou gelangstel om vinnig geld te maak deur hulle te help om kokaien uit die see te herwin.
Volgens Bushby sou ‘n verbygaande skip ‘n besending kokaien in die internasionale waters by Stilbaai se kus gee en hy moes help om die kokaien uit die see te haal en veilig aan wal te bring.
Hy is vertel dat die besending kokaien sowat 100kilogram sou weeg.
Bushby se weergawe is dat hy ingestem het om te help omdat hy geld nodig gehad het vir ‘n nuwe sakeonderneming wat hy in Namibië wou begin.
Hy is nie gesê hoeveel hy sou verdien nie, maar was onder die indruk dat die betaling aansienlik sou wees.
Bushby het gesê hy is opdrag gegee om die oggend van 18 Julie 2024 ongeveer 05:00 in Stilbaai se hawe te wees waar ‘n groep mense op ‘n rubberboot hom sou ontmoet.
Die oggend van 18 Julie het Bushby sy medebeskuldigdes by die Stilbaai-hawe ontmoet – onder andere Ninic, Ivanovic, Beukes, Benzien en ander wie se identiteite hy nie met sekerheid kon onthou nie.
Beukes en Benzien is bekendgestel as die skippers, terwyl Ivanovic blykbaar die leiding geneem het.
Ivanovic het vir Beukes ‘n satellietfoon gegee en hom ingelig dat hy binne die volgende 48 uur koordinate sou ontvang wat die plek identifiseer waar die vrag gelaat sou word.
Bushby is vertel dat sy rol sou wees om te help om die vrag uit die water te lig, dit te beveilig en terug na die hawe te neem.
Volgens Ntabazalila het Beukes later koordinate ontvang wat verskeie kere verander het. Hy het nog later instruksies ontvang om na die hawe terug te keer om nog ‘n man en bykomende brandstof te kom haal. Die ongeidentifiseerde man het ook ‘n satellietfoon gehad wat hy gebruik het om aan iemand anders te bevestig dat hy opgelaai is. Die grope het later die skip opgespoor en het volgens Bushby met fakkelligte met die bemanning op die skip gekommunikeer.
Die dwelms is kort daarna ter see gelaat waarna hulle dit uit die see gehaal het.
Ninic het kort daarna glo ‘n oproep ontvang en hulle is op drag gegee om op see te bly totdat hulle ingelig sou word wanneer om na die hawe terug te keer. Dit was nadat hulle uiteindelik op pad terug was na die hawe dat Bushby ‘n harde knal gehoor het. Ninic het glo ‘n vuurwapen vasgehou, terwyl ‘n ongeidentifiseerde man dood gelê het. Volgens Bushby het Ninic, wat in gebroke Engels gepraat het, na Beukes, Benzien en die ander aan boord gewys en gesê: “You good, you are good, you good”. Hy het toe na die oorledene gewys en gesê: “He is not good.” Ninic het die oorledene se lyk na bewering oorboord gegooi, waarna Beukes en Benzien glo die bloed van die boot afgevee het. Bushby het aan die hof vertel dat hy doodbang was en gevrees het hy mag volgende wees. Hy het gesê hy het nie geweet dat Ninic ‘n vuurwapen het nie en het geen kennis van enige plan gehad om die oorlede te vermoor nie.
Die groep het op die aand van 19 Julie 2024 na die hawe teruggekeer nadat hulle die dag op die see gedryf het. Hy het gesê hy (Busbhy) is opdrag gegee om ‘n sportnutsvoertuig met ‘n bootsleepstang te bestuur terwyl Ninic en nog ‘n man saam met hom in die rigting van Jongensfontein gereis het. Die polisie het die voertuig later voorgekeer, maar Bushby en Ninic het uitgespring en te voet gevlug. Hulle is later na ‘n gastehuis in Stilbaai waar hulle gehoop het om die aand te oornag, maar is later daar in hegtenis geneem.
Bushby het getuig hy het nooit enige betaling ontvang nie.
Sy medebeskuldigdes verskyn vandag in nog ‘n voorverhoor in die hooggeregshof in Kaapstad.
