Die verhoor van die twee mans wat verlede jaar in verband met die besit van meer as 15kg kokaien en onwettige vuurwapens en ammunisie in ‘n stoorplek in Roelandstraat, Kaaptstad, in hegtenis geneem is, is tot vandag uitgestel.
Die verhoor van Raed Cupido, ‘n voormalige senior bankier van Standard Bank, en Christopher Carelse, ‘n voormalige werknemer van Shell, was veronderstel om gister in die streekhof in Kaaptad te begin.
Die uitstel volg nadat ‘n nuwe staatsaanklaer, P J Damon, op rekord vir die staat gekom het. Die hof het gehoor dat die oorspronklike staatsaanklaer, Greg Wolmarans, wat ook een van die staantsaanklaers in die verhoor van Nafiz Modack en 14 ander is, hom nie van die saak (die Modack verhoor) kon losmaak nie. Damon het vir uitstel gevra sodat hy hom kon vergewis van die uitsprake in die laaste borgtogaansoeke van sowel Cupido as Carelse, wat altwee die afgelope maand van die hand gewys is. Hy het gesê dat hy met die inhoud vertroud wil wees voordat die saak voortgaan.
Cupido se regsverteenwoordiger het aan die hof gesê dat ook hy onlangs op rekord vir Cupido gekom het. Hy het aangevoer dat die staat nege getuies gaan roep, maar die verdediging het net die verklarings van ses van die getuies gekry. Volgens hom het die verdediging die reg op die verklarings sodat hulle deeglik voorbereid kan wees.
Die landdros het egter nie hiermee saamgestem nie en het aan Cupido se regsverteenwoordiger gesê alle parte het in die voorverhoorkonferensie gesê dat hulle alle relevante verklarings en nadere besonderhede gekry het soos wat hulle versoek het. Die landdros het gesê dit was die opdraggewende prokureur se plig om hom op die hoogte te bring.
Cupido en Carelse staan tereg op aanklagte van dwelmhandel en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
