Die president van die Cape Amalgamated Taxi Association (Cata) is steeds in aanhouding nadat hy Vrydag op borgtog van R30 000 vrygelaat is.
Siviwe Kiva (42), wat tereg staan op aanklagte van moord en poging tot moord, is na ‘n borgtogaansoek in die landdroshof in Wynberg, Kaapstad, vrygelaat onderhewig aan sekere borgtogvoorwaardes.
So borgtogvoorwaardes sluit in dat hy vir die duur van die hofsaak teen hom by sy adres in Sunningdale mag bly; hy op Maandae, Woensdae, Vrydae en Sondae tussen 10:00 en 17:00 by die Tableview polisiekantoor moet aanmeld; hy geen direkte of indirekte kontak met die staatsgetuies mag maak nie en dat hy nie die Wes-Kaap mag verlaat sonder die toestemming van die ondersoekbeampte nie.
Ondanks die positiewe ontwikkeling in die saak is hy egter steeds in aanhouding weens ‘n ander saak, waarvoor hy op 1 Junie in die landdroshof in die Paarl moet verskyn.
Kiva se regsverteenwoordiger, William Fullard van Mathewson Gess Prokureurs, het hom gister na die Paarl gehaas om te probeer uitpluis weens watter saak sy kliënt in die hof teregstaan.
Fullard het bevestig die aanklag in die Paarlse hof is sameswering om moord te pleeg en spruit uit ‘n voorval in 2023.
Dit is soortgelyk aan die aanklagte teen hom wat in die hof in Wynberg aangehoor word.
Kiva is op 7 Mei in Ngcobo in die Oos-Kaap in hegtenis geneem, enkele minute nadat die hof daar ‘n klag van moord teen hom teruggetrek het.
Luidens die klagstaat in Ngcobo het die aanklaer die saak vir ‘n geregtelike ondersoek verwys.
Kiva is daarna van die Oos-Kaap na Kaapstad gebring en is sedert Donderdag in aanhouding.
Sy eerste verskyning indie saak in Wynberg was op 11 Mei, en daarna het hy op 13 Mei die eerste keer in die landdroshof in die Paarl verskyn, waar die saak tot 1 Junie uitgestel is.
Luidens die klagstaat in die Wynberg saak word Kiva aangekla van die moord op Matoto Sobutya (40) op 15 Maart 2023 in Samora Machel.
Die klag van sameswering om moord te pleeg was nie sorgvuldig op die klagstaat ingevul nie en lui net dat hy na bewering op 27 Maart 2023 saamgesweer het om moord te pleeg.
In die hof het die aanklaer aangevoer die beskuldigde het tussen Maart en November 2023 huurmoordenaars opdrag gegee om “ontslae te raak” van verskeie teikens, wat glo op dieselfde taxiroetes as die van sy vereniging gewerk het.
“Die getuie wat Kiva by die moorde betrek het, is die persoon wat die huurmoordenaars moes rondry. Hy is in November 2023 opdrag gegee om ‘n huurmotordenaar na die Paarl te naam, waar nog ‘n persoon geskiet is,” het die aanklaer ten tyde van ‘n vorige verskyning gesê.
Kiva moet weer op 8 Julie in die landdroshof in Wynberg verskyn.
