Drie vas wat dalk R2,5m se perlemoen smokkel

Die Burger, verslag deur Fransciska Swarts

Die Valke het Woensdag drie mense in hegtenis geneem toe hulle op ‘n perseel in Thornton in Kaapstad se suidelike voorstede toegeslaan het waar hulle op perlemoen van sowat R2,5miljoen afgekom het.

Volgens lt. kol. Siyabulela Vukubi, Valke-woordvoerder, het die Valke ondersoek ingestel nadat inligting ontvang is oor die onwettige bedrywighede in Thornton.

By hul aankokms het hulle twee mense in ‘n Toyota-bakkie aangetref waarin daar houers vol perlemoen was en hulle is in hegtenis geneem.

“Daar is op 3443 stuks perlemoen en 5995 stuks gedroogde perlemoen beslag gelê”, sê Vukubi.

Die Valke-lede het nie daar gestop nie.

Verdere inligting is opgevolg en ‘n derde persoon is ook in hegtenis geneem. ‘n Vierde persoon word nog gesoek.

Die ondersoek is gelei deur die Valke in samewerking met die departement van bosbou, visserye en die omgewing.

Die drie vermeende smokkelaars sal na verwagting vandag in die landdroshof in Goodwood op aanklag van die onwettige handel in perlemoen verskyn. Hulle is tussen 30 en 48 jaar oud.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top