Die Burger, verslag deur Maygene de Wee
Die saak teen agt mans wat in 2024 Stilbaai met 400kg kokaien betrap is, is Vrydag in die hooggeregshof in Kaapstad tot 12 Junie uitgestel vir nog ‘n voorverhoor.
Renaldo Beukes, (35), Dicky Johan Benzien (50), Matthew Fourie (23), Jordan Cullingworth (29) en Alan Bushby (49), al vyf Suid Afrikaners en Nemanja Vuckovic (31), Marko Ninic (41) en Josip Ivanovic (39) van Serwië staan in die hof tereg op aanklagte van moord, handel in dwelms en dat van hulle die Immigrasiewet oortree het en sedert Julie 2024 onwettig in die land is.
Luidens die klagstaat het hulle op 19 Julie 2024 naby die hawe inn Stilbaai in die Hassequa munisipale gebied of terwyl hulle op see was, een van hulle meelopers vermoor.
Die polisie het die voertuig en rubberboot deursoek en op 14 sakke met 400 blokke kokaien afgekom. Die polisie het op die dwelms, die voertuig en die boot beslag gelê en Bushby en Ninic is in hegtenis geneem.
Luidens die opsomming van wesentlike feite is die rubberboot op 18 Julie 2024 by die hawe in Stilbaai te water gelaat. Aan boord was Beukes, Benzien, Bushby en Ninic. Die rubberboot was volgens die staat ure lank op water. Dit het later na die hawe teruggekeer waar nog kanne diesel volgens die staat op die boot gelaai is. Dit is toe dat die nog onbekende persoon wat klaarblyklik vermoor is glo aan boord van die rubberboot gegaan het.
Volgens die staat is die boot terug na die oop see, waar hy die 14 blokke kokaien opgelaai het.
