Lutzville-man siek, nou eers later gevonnis

Die Burger, artikel – Jana Breytenbach

Die vonnisoplegging van ‘n man van Lutzville wat ‘n kind met sy bakkie getref en oor hom gery het, is vir langer as ‘n maand uitgestel omdat hy siek is.

Christoffel Stoman, ‘n pensioenaris in sy 70s, is in Julie in die landdroshof in Vredendal skuldig bevind op twee aanklagte van poging tot moord.

Stoman is op 22 September 2024 in hegtenis geneem nadat hy vroeër die dag ‘n seun van Lutzville-Wes met sy bakkie omgestamp en oor hom gery het. Albei die kind se bene is in die voorval gebreek.

Die seun het die voorval oorleef en is in die hospitaal in Vredendal behandel. Hy het ook ‘n operasie in die provinsiale hospitaal in die Paarl ondergaan.

Die hof het destyds Stoman se borgtogaansoek van die hand gewys, waarna hy in die hooggeregshof geappelleer het, maar weer misluk het.

Hy is wel tans uit op borgtog, hangende sy vonnisoplegging, maar was nie Donderdag in die hof nie.

William Fullard van Mathewson & Gess Prokureurs, wat Stoman verteenwoordig, het bevestig sy kliënt is siek. Hy het reeds verlede week ‘n doktersbrief van Stoman se onkoloog aan die hof en die staat gestuur.

Die onkoloog het Stoman tot einde September afgeboek.

Die proefbeampte se verslag, wat die staat vir die voorvonnisverrigtinge benodig, is boonop nie klaar nie.

Die hof het toe die saak tot einde Oktober uitgestel sodat die verslag voltooi kan word en Stoman by die hof teenwoordig kan wees.

‘n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is wel deur die hof uitgereik, maar dit is oorgehou tot die volgende verskyningsdatum.

Aan die begin van die saak, toe Stoman om borgtog aansoek gedoen het, het sy vrou, Magdalene, getuig.

Sy was op die dag van die voorval saam met Stoman in die voertuig omdat hulle pas vanuit Kaapstad teruggekeer het nadat hulle sy onkoloog besoek het.

Magdalene het getuig dat haar man kwaad was toe hy die seun en sy ma op 22 September 2024 langs die plaas se heining sien loop het.

Sy het getuig die kind het sy hand deur die heining gedruk en dat dit kon wees omdat hy ‘n lemoen wou pluk.

Magdalene het gesê sy weet nie hoe die seun onder hul voertuig beland het nie.

Haar man was kwaad en wou glo weet hoekom die seuntjie hulle lemoene vat, het sy getuig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top