Uitbuiting-netwerk: 16-jarige word vir waarneming verwys

Die Burger, artikel – Ane van Zyl

Die 16-jarige seun van Malmesbury wat ‘n internasionale aanlyn ekstremistiese netwerk betrek en in die hof aangekla word, is by sy verskyning gister in die landdroshof vir psigiatriese waarneming verwys.

Die seun, wie se naam nie genoem mag word nie, het gister vir ‘n tweede keer in die hof verskyn en staan tereeg op 15 aanklagte.

By sy eerste verskyning is hy na ‘n distriksgeneesheer verwys wat aanbeveel het dat hy vir psigiatriese waarneming verwys word.

“Die hof het die dokter se aanbeveling aanvaar en die beskuldigde is ingevolge art. 77(1) en 78(2) van die Strafproseswet na die Valkenberg-psigiatriese hospitaal verwys. Sy saak is tot 27 Augustus uitgestel vir ‘n borgtogaansoek,” sê Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap.

Die seun word in ‘n plek van veiligheid gehou totdat hy weer in die hof moet verskyn.

Hy het aanvanklik op 11 aanklagte tereggestaan, maar die staat het vier aanklagte by die klagstaat gevoeg.

Die aanklagte sluit in die seksuele voorbereiding van ‘n kind, gedwonge seksuele aanranding, die seksuele uitbuiting van ‘n kind, die vervaardiging van kinderpornografie, die blootstelling aan of vertoon van pornografie aan ‘n kind, die onwettige en opsetlike verspreiding van kinderpornografie, die besit van kinderpornografie, die stuur van databoodskappe wat ander aanmoedig om eiendom te beskadig of geweld te pleeg, wreedheid teenoor diere en die verfilming en verspreiding van flieks en fotos wat seksuele geweld en geweld teen kinders uitbeeld.

Die hof het as voorsorgmaatreël besluit dat die klagstaat en alle hofbevele verseël word na ‘n aansoek deur die staat ingevolge art. 154(3) van die Strafproseswet (wet 51 van 1977), sê Ntabazalila.

“Die staat het die stap gedoen om die regte van die beskuldigde, wat ‘n minderjarige is, die slagoffers, asook sy broers en susters en familie, te beskerm.”

Voorheen is berig die seun wrod verbind met die 764-netwerk, wat ook deur die FBI ondersoek word.

Lede van die gewelddadige aanlyn netwerk is oor Amerika en die hele wêreld heen werksaam. Hulle het dikwels onbeperkte toegang tot die internet en is op sosiale media, speletjie-apps en ander aanlyn platforms bedrywig.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top