Uitbuitnetwerk: FBI spoor SA tiener op

Die Burger, artikel – Ane van Zyl

Die inhegtenisneming van ‘n 16-jarige seun Maandag in Malmesbury wys dat die tentakels van ‘n internasionale ekstremistiese aanlyn netwerk tot in die Wes-Kaap strek.

Die tiener is vasgetrek in verband met die besig, fasilitering en aflaai van materiaal waarin kinders seksueel misbruik word. Intelligensie dui daarop dat hy vermoedelik bande met ‘n geweldadige aanlyn netwerk, algemeen bekend as “764”, gehad het.

“Die 764-netwerke is geweldadige internasional ekstremistiese aanlyn netwerke wat met kinderuitbuiting verbind word,” sê lt. kol. Amanada van Wyk, polisiewoordvoerder.

“Hierdie oortreders teiken minderjariges, dreig en dwing hulle tot aanlyn seksuele misbruik, om diere te martel en dood te maak, en om ander vorme van skadelike misdadige dade uit te voer”.

‘n Voorlopige ontleding van die seun se elektroniese toestelle het eksplisiete beelde en video’s ontbloot wat die seksuele misbruik van kinders en die verminking van diere uitbeeld.

Die toestelle sal aan ‘n omvattende forensiese ondersoek onderwerp word om die volle omvang van die beweerde oortredings te bepaal. ‘n Aantal kinderslagoffers is reeds geidentifiseer.

“Die moontlikheid van bykomende oortredings wat met bedrog en geldwassery verband hou, vorm deel van voortgaande ondersoeke,” lui die verklaring.

Die polisie se eenheid vir reeks- en elektroniese misdade het intelligensie ontvang van die federale speurdiens (FBI), die Amerikaanse ambassade en die Amerikaanse Nasionale Sentrum vir Vermiste en UItgebuite Kinders (NCMEC).

Die beskuldigde het gister in die landdroshof in Malmesbury verskyn.

Die FBI ondersoek wêreldwyd meer as 450 persone wat 764 en ander geweldadige aanlyn netwerke verbind word.

Die FBI in Dallas, Texas, het in April by monde van sy adjunkhoof, Robbie Manson, gesê die netwerke se name verander deurentyd, maar hul aktiwiteite bly dieselfde. Hulle moedig slagoffers selfs aan om hul eie lewe te probeer neem.

“Hulle werk onder meer op sosiale media en speletjie apps. Hulle bou vertroue by hul slagoffers en dwing hulle later om persoonlike inligting en eksplisiete foto’s en video’s te deel; huerdie materiaal word dan gebruik om die slagoffers af te pers om bykomende inhoud te skep wat toenemende seksuele en gewelddadige gedrag uitbeeld.”

Bradley Cadenhead (nou 20) was 15 toe hy die 764-netwerk begin het. Hy dien 80 jaar tronkstraf in Texas uit.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top