‘Ons kinders moet beter beskerm word’

16-Jarige vas oor aanlyn martelspul

Die Burger, artikel – Ane van Zyl

Twee DA-lede in die Wes-Kaapse wetgewer het gister ‘n oproep gedoen op beter intelligensie-gedrewe polisiëring om kinders aanlyn te beskerm. “Kinders moet veilig wees waar hulle ook al is – ook aanlyn”, sê Benedicta van Minnen, DA-LPW na die inhegtenisneming van ‘n 16-jarige seun in Malmesbury.

Die tiener is vasgetrek in verband met die besit, fasilitering en aflaai van materiaal waarin kinders seksueel misbruik word.

“Die inhegtenisneming is ‘n belangrike stap, maar die werk eindig nie hier nie. Ons benodig ondersoek wat lei tot suksesvolle vervolgins en skuldigbevindings, terwyl ons verseker dat kinders wat geteiken of uitgebuit word, die beskerming en ondersteuning ontvang wat hulle nodig het,” het van Minnen gesê.

Wendy Kaizer-Philander, ook ‘n DA-LPW, sê “Die beskerming van kinders vereis ‘n samelewing-wye benadering. Wetstoepassing, maatskaplike dienste, skole, gesinne en gemeenskappe moet saamwerk om uitbuiting te voorkom, kwesbare kinders vroeg te identifiseer en te verseker dat slagoffers gepaste ondersteuning ontvang.”

Die Suid-Afrikaanse burger-regteorganisasie Action Society sê die saak is besonder ontstellend omdat kinders aan albei kante daarvan staan. “Daar is minderjarige slagoffers wat aan ernstige seksuele uitbuiting en ander vorme van geweld blootgestel is, maar die persoon wat nou daarvan beskuldig word, is self net 16 jaar oud.

“Dit beteken nie sy ouderdom verminder die erns van die beweerde misdade nie. Die slagoffers verdien beskerming, geregtigheid en behoorlike ondersteuning. Maar wanneer ‘n kind moontlik by ‘n internasionale netwerk betrokke raak wat kinders doelbewus teiken, manipuleer en uitbuit, moet ons ook vra hoe hy daar beland het, wie hom beinvloed of gewerf het, en of daar ander – ook volwassenes – agter hom staan.

“Die spoed waarmee hy in hegtenis geneem is, wys ook hoe vinnig die wêreld waarin ons ons kinder probeer beskerm, verander het. ‘n Mens hoef nie meer fisiek naby ‘n kind te wees om toegang tot hom of haar te kry niel Internasionale netwerke kan kinders deur die toestelle in hul eie huise bereik, manipuleer en uiteindelik gebruik om ander kinders skade aan te doen.”

Action Society sê hy verwelkom die samewerking tussen die polisie en internasionale wetstoepassingsagentskappe. “Die ondersoek moet nou veel verder gaan as die enkele 16-jarige. “Elke moontlike slagoffer moet geidentifiseer en beskerm word, en die volle netwerk en enige ander persone wat hierby betrokke is, moet opgespoor word. Die saak behoort vir elke ouer, skool en owerheid ‘n ernstige waarskuwing te wees: Aanlyn kinderveiligheid is nie meer ‘n bysaak van kinderbeskerming nie; dit is kinderbeskerming.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top