Die Burger, artikel – Carl Thomas
‘n Egpaar is in Melkbosstrand in hegtenis geneem nadat hulle na bewering probeer het om ‘n kind by ‘n oppasser te koop.
‘n Vyf-en-sewentigjarige man en 68-jarige vrou is Dinsdag omstreeks 14:30 op aanklagte van mensehandel en poging tot ontvoering in hegtenis geneem, sê die polisie by navraag.
Die polisie het op inligting gereageer na aanleiding van ‘n voorval in Table View, waar die verdagtes na bewering ‘n kinderoppasser en ‘n jong kind genader en aangebied het om die kind te koop, sê kol. Andre Traut, polisiewoordvoerder.
Die voorval is by die polisie aangemeld en ‘n soektog na die verdagtes het gevolg, waarna die egpaar in hegtenis geneem is.
Traut sê die ondersoek na die voorval duur voort.
Op die Bloubergstranders-groep se Facebook-blad het ‘n persoon Dinsdag geskryf hulle het op 6 Augustus ‘n stemboodskap ontvang oor ‘n “bejaarde egpaar wat probeer het om ‘n baba by ‘n kinderoppasser te koop terwyl sy na die park gestap het.”
Die egpaar, wat ‘n blou Ford Fiesta bestuur het, wou glo na die kind in die stootwaentjie kyk.
Die kinderoppasser het huis toe gehardloop en die voorval by die baba se ouers aangemeld.
Die voorval het in Ravenweg gebeur, lui die Facebook-inskrywing.
Dinsdag is ‘n boodskap van ‘n kennis ontvang wat in Bellville woon, lui die inskrywing.
Die kennis het gesê een van sy kollegas het Dinsdagoggend aan hom ‘n boodskap gestuur dat sy huis toe jaag, aangesien ‘n egpaar pas aangebied het om haar baba by haar kinderoppasser te koop terwyl sy met die kind na die parkie gestap het.
Die voorval het in Windsorweg gebeur.
“Aanvanklik het ek gedink dit was ‘n herhaling van een van die vreesaanjaende stemboodskappe, soos ek ook oor die stemboodskap op die buurtgroep op 6 Augustus gedink het.
“My kennis het my egter verseker dat hy die vrou ken wie se kind vandag (Dinsdag) probeer ‘koop’ is en sy is ‘n wettige bron.”
Luidens die inskrywing is ‘n boodskap kort na die kennis se boodskap op hul buurtgroep geplaas met foto’s van die voertuig, asook ‘n registrasienommer en ‘n dowwe foto van die vrou in die passasiersitplek.
Later is berig die egpaar is in Melkbosstrand in hegtenis geneem.
Dis vergesel van ‘n foto van veiligheidsvoertuie om dieselfde blou Ford Fiesta.
Die Burger het die persoon wat die inskrywing geplaas het om kommentaar gevra, maar teen druktyd nog geen terugvoering ontvang nie.
‘n Vrou is ook gekontak wat die ma in die jongste voorval ken. Sy het aangedui dat sy die ma in kennnis gestel het van die navrag, maar die ma het teen druktyd nog nie gereageer nie.
Die egpaar sal na verwagting vandag in die landdroshof in Kaapstad verskyn.
