Die Papier, Nuus-argief | Die Papier
‘n 16-jarige van Malmesbury wat deur 15 klagte in die gesig gestaar word in verband met die verkryging, besit, fasilitering en aflaai van kinderpornografie is geskik bevind om verhoor te word. Die verdagte se saak was op 5 Oktober op die hofrol van die Malmesbury-landdroshof vir terugvoering oor assessering en finalisering van waarnemings nadat hy vir waarneming van 30 dae by the Valkenberg Psigiatriese Hospitaal ingeboek is.
Die mediese verslag dui aan dat hy geen geestessiekte het nie en geen intellektuele gestremdheid het nie. Die beskuldigde wat op 17 Augustus by sy ouerhuis in hegtenis geneem is, is geskik bevind om vehoor te word en verrigtinge te volg, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, bevestig. Sy inhegtenisneming het gevolg op hegte samewerking tussen die polisie se Nasionale Reeks-en Elektroniese Misdaadondersoeke (SECI) en Amerikaanse wetstoepassingsagentskappe.
Ondersoekers het die verdagte verbind aan ‘n netwerk genaamd “764” en opgemerk dat hy nie alleen opgetree het nie. ‘n Voorlopige ontleding van die tiener se elektroniese toestelle het na bewering eksplisiete beeldmateriaal van seksuele misbruik en diereverminking uitbeeld. Die saak is to 15 Oktober uitgestel.
