Malmesbury-tiener in saak oor seksnetwerk ‘kan verrigtinge volg’

Die Burger deur,  Ané van Zyl

Die 16-jarige seun van Malmesbury wat by ‘n internasionale aanlyn ekstremistiese netwerk betrek word, is geskik bevind om tereg te staan en sal die hofverrigtinge kan volg. Die seun, wat die afgelope maand in die Valkenberg-psigiatriese hospitaal geëvalueer is, ly luidens die mediese verslag nie aan ‘n geestesiekte nie en het geen intellektuele gestremdheid nie. Die saak is tot 15 Oktober uitgestel vir die verrigtinge rakende sy borgtogaansoek, sê Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Die seun staan tereg op 15 aangklagte van onder meer die seksuele voorbereiding van ‘n kind, gedwonge seksuele aanranding en die seksuele uitbuiting van ‘n kind, asook die vervaardinging van kinderpornografie, die blootstelling aan of vertoon van pornografie aan ‘n kind, die onwettige en  opsetlike verspreiding van kinderpornografie, die besit van kinderpornografie, die stuur van databoodskappe wat ander aanmoedig om eiendom te beskadig of geweld te pleeg, wreedheid teenoor diere en die verfilming en verspreiding van video’s en foto’s wat seksuele geweld teen kinders uitbeeld. Die hof het as voorsorgmaatreël besluit dat die klagstaat en alle hofbevele verseël word ná ‘n aansoek deur die staat ingevolge art. 154(3) van die Strafproseswet (wet 51 van 1977).

Voorheen is berig die seun word met die 764-netwerk verbind wat ook deur Amerika se federale speurdiens (die FBI) ondersoek word. Die FBI sê dié netwerk en netwerke wat daarmee verbind word, probeer minderjarige slagoffers dwing en manipuleer om hulself, diere en ander minderjariges skade aan te doen. Hulle moedig slagoffers selfs aan om hul eie lewe te probeer neem. Lede van gewelddadige aanlyn netwerke teiken gewoonlik minderjariges of ander kwesbare individue, maar enigiemand kan ‘n slagoffer word. Lede van die 764-netwerk en soortgelyke netwerke word soms gemotiveer deur ‘n soort ideologie of begeerte om chaos te saai, sê die FBI.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

To Top