AANKLAGTE TEEN DA SE VYF LEDE LAAT VAAR

DIE BURGER, DEUR JASON FELIX

KAAPSTAD – Die polisie se hardhandige optrede tydens betogings voor pres. Jacob Zuma se staatsrede was ‘n swak poging om opposisiepartye te verhoed om kapsie te maak teen die regering. So het die DA gister gereageer nadat aanklagte wat verband hou met openbare geweld teen vyf lede van die party in die Kaapstad landdroshof teruggetrek is. Die vyf, die party se nasionale woordvoerder, Marius Redelinghuys, en die streekvoorsitter, Shaun August, asook Bernard Lotriet, Ricardo Sarauna en Deon Basson, was betrokke by ‘n betoging in Adderleystraat voor Pres. Zuma se staatsrede op 12 Februarie. Adv. Glynnis Breytenbach, voormalige aanklaer en DA-LP, het gister buite die hof gesê die aanklagte teen hul lede was “baie swak”. “Dit was van die begin af duidelik dat daar baie min bewyse teen ons lede was. Die polisie het heel duidelik onreëlmatig opgetree en ek dink dit was alles net om hul gesag af te dwing. Ook om die DA te keer om uit te praat of te betoog teen dit wat nie reg is in die land nie,” het sy gesê. Hulle is eers op 13 Februarie omstreeks 01:15 op borgtog van R1,000 elk vrygelaat. Die polisie het waterkanonne en knuppels gebruik om die DA-lede uiteen te dryf. Volgens Redelinghuys was hy op pad na die parlement toe hy sien hoe polisiebeamptes DA-lede rond stamp. “Die betoging was vreedsaam. Ek voel verheug oor die hofuitspraak. Ek het ook van die begin geweet dat daar nie ‘n saak teen ons was nie,” het hy gesê. Die vyf se regsverteenwoordiger, Bruce Hendricks, het gesê hy het al die feite aan die staatsaanklaer voorgelê. “Daar is gesamentlik besluit dat die aanklagte teen die vyf teruggetrek gaan word. Daar was net te min bewyse teen die vyf mans,” het hy gesê. Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse leier van die DA, het gesê “Die hof het vandag vir ons bewys dat die polisie ons lede onnodig in hegtenis neem. Daar was geen wettige rede vir die polisie se optrede nie.”

To Top