STAGGIE SE SEUN BORGTOG VAN R50,000 TOEGESTAAN NA DRIE MAANDE IN AANHOUDING

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR JANA BREYTENBACH

KAAPSTAD – Die seun van Rashied Staggie, voormalige leier van die Hard Livings bende, is gister borgtog van R50,000 in die Wes Kaapse Hooggeregshof toegestaan. Abdul “Dullah’ Boonzaaier (26) sal na verwagting eers vandag die bedrag kan betaal en dan vrygelaat word. Dit volg nadat hy aan die begin van die jaar in die Kaapstadlanddroshof borgtog geweier is nadat hy glo met tik in sy besit betrap is. Boonzaaier en sy medebeskuldigde, Zaine van Wyk (25), het in Januarie op aanklagte van die besit van dwelms en dwarsboming van die gereg verskyn. Luidens die klagstaat is die twee op 24 Desember 2014 in Boonzaaier se huis in Wrightstraat, Woodstock, met tik betrap. Boonzaaier het reeds minstens twee ander sake hangende teen hom – van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en die onwettige besit van dwelms. In die jongste saak het die plaaslike landdroshof borgtog geweier. Boonzaaier het toe die beslissing op appel na die hooggeregshof geneem waar regter Andre le Grange dit gister aangehoor het. Volgens Bruce Hendricks, Boonzaaier se regsverteenwoordiger, het Le Grange gesê indien Boonzaaier skuldig bevind word, sal ‘n vonnis van nie meer as drie maande nie opgelê kan word. Dit is hoe lank hy reeds aangehou word. Volgens Hendricks het Le Grange gesê dit sal nie in die belang van geregtigheid wees om hom langer aan te hou nie. Le Grange het beslis dat Boonzaaier op borgtog van R50,000 vrygelaat kan word. Hendricks het gister laat gesê Boonzaaier sal moontlik eers vandag die bedrag kan betaal. Hy moet weer op 31 Maart in die prioriteitshof verskyn.

To Top