Kill op Carmen ergste vir Cop

DIE SON, ARTIKEL DEUR TANYA MENGES

“Ek het geen twyfel dat hy my gaan vermoor nie.” Dit is wat Carmen Jacobs (29) kort voor die moord op haar aan lt.kol. Carol van Wyk gesê het. Sy het van haar man, Ivan (32), gepraat. Van Wyk het gister in die Kaapse hooggeregshof getuig oor die beserings wat sy op 13 Desember 2013 aan Carmen se hele lyf gesien het. Haar erg vernielde lyk is op 25 Februarie 2014 by haar en Jacobs se huis in Sheraton Park, Steenberg, gevind. Hy het haar na bewering van hul ander huis in Woodlands, Mitchells Plain, ontvoer na talle aanrandings voor hul vier kinders. Van Wyk het foto’s van Carmen se beserings laat neem, maar dit is eers gister aan die staat en die verdediging beskikbaar gestel. AO Kevin Bussack, die ondersoekbeampte, het dit nooit by die dossier ingesluit nie en Van Wyk het getuig sy het dit eers gisteroggend agtergekom. Jacobs se lawyer, adv. Helmut Scholzel, het beswaar gemaak en gesê hy het tyd nodig om met sy kliënt te konsulteer oor die foto’s. Die foto’s wys gruwelike beserings aan omtrent elke deel van haar liggaam. “Daar was krapmerke aan haar arms, snymerke aan haar boude en agterbene en haar oë was blou geslaan. Sy het ‘n frokkie aangehad. Al die beserings was dus duidelik,” het Van Wyk getuig. Die foto’s kon nie ingehandig word nie oor die verdediging eers daaroor wil donsulteer. Volgens Van Wyk sal die saak haar altyd bybly: “In my loopbaan van 25 jaar is dit een van die sake wat ek nooit sal vergeet nie. Die toestand waarin sy was en die emosielose uitdrukking in haar oë sal my altyd bybly.” Van Wyk het getuig dat Carmen aan haar gesê het dat Jacobs haar van die begin van hul huwelik van sewe jaar emosioneel afgekraag het, maar eers na drie jaar fisiek begin aanrand het. “In die laaste jaar voor haar dood het die aanrandings erger geraak en sy het besef haar lewe is in gevaar. Dit toe sy besluit het om ‘n klag van aanranding teen hom te maak.”

To Top