AANKLAGTE TEEN STUDENTE LAAT VAAR

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR NEWS24WIRE

Kaapstad – Hy is verheug dat sy gebede vir sy seun Kgotsi en nog 28 studente verhoor is, het eerw. Frank Chikane, kerkleier en voormalige direkteur-generaal in die presidensie, gister gesê.

Hy het gepraat nadat aanklagte teen sy seun en die ander studente wat verband gehou het met verlede jaar se #FeesMustFall-veldtog gister in die landdroshof in Kaapstad teruggetrek is.

Met sy vrou, Kagiso, langs hom het hy gister by die hof gesê hy het gebid dat die saak tot ‘n einde kom omdat dit die studente se lewe baie ontwrig het.

“Ek het al voorheen gesê ek respekteer die jongmense. Baie van hulle kom uit bevoorregte huise en hul ouers kan vir hulle betaal,” het hy gesê.

“Die stryd gaan nie om eiebelang nie, maar oor meerderheid. Hulle loop risiko’s vir ander en dit is nog altyd die gees van ons struggle.”

Kgotsi Chikane het gesê hy is verlig, gelukkig en opgewonde oor die toekoms.

Die provinsiale direkteur van openbare vervolging het besluit dit is nie in openbare belang om die studente te vervolg nie.

“Die protesaksie by die parlementsgeboue was vreedsaam en die betogers het geen skade aangerig nie. Hulle het betoog teen die hoë koste van onderwys in die land en het steun van die publiek gehad,” het Eric Ntabazalila gesê.

Luidens aanvanklike klagstate is ses van die studente in ‘n stadium deur ‘n aanklag van hoogverraad in die gesig gestaar.

‘n Glimlaggende Frank Chikane het gesê hy het vir sy seun gesê om die klagstaat te raam. “Dit is ‘n baie geskiedkundige en belangrike stuk inligting,” het hy bygevoeg.

“Toe hy oornag aangehou is, kon ek nie die klag van hoogverraad verstaan nie. Ek het gedink dit is gek en het gewonder hoe hulle daarby uitgekom het.

“Dit was ‘n oomlik van pure gekheid. Ek dink dit was paniek.”

Hy is bly dat die staat aandag gee aan die onderwysuitdagings wat die studente uitgewys het.

Ilan Price, seun van Max Price, rektor van die Universiteit van Kaapstad, en die studente-aktivis Chumani Maxwele het ook hul blydskap uitgespreek omdat die aanklagte teen hulle laat vaar is.

Ilan Price meen egter die stryd is nog lank nie verby nie.

“Natuurlik is ek verlig, maar ek het dit op ‘n manier verwag. Dit is die regte ding. Ek kan net dink wat sou gebeur het as studente aangekla is van openbare geweld terwyl daar geen geweld was nie.”

To Top