‘DIKDING’ BLY STEEDS IN TJOEKIE

DIE SON, ARTIKEL DEUR BOHEMIA HOFFMEESTER

Die staat het daarin geslaag om ‘n vermeende dikding agter tralies te hou.

Hoewel Martin “Otter” Heskwa, ‘n vermeende leier van die Junior Cisko Yakees (JCY’s), bail van R1000 gekry het, bly hy steeds in aanhouding.

Heskwa staan saam met twee ander tereg vir die moord op Kwanele Mabona. Hy is in 2013 in die Worcester-gevangenis vermoor.

Heskwa is intussen ook saam met Lionel Manuel op 24 Februarie aangekla van sameswering tot die moord op Johan Levy.

Levy van Ceres, wat ook ‘n lid van die JCY’s was, het na bewering weggehardloop met dwelms en geld van Heskwa.

Die staat beweer Heskwa en Manuel het op 13 September 2014 saam beplan om Levy te vermoor.

Heskwa is ook aangekla nadat hy glo ‘n selfoon en ‘n charger by die tronk ingesmokkel het.

Heskwa, wat tans in aanhouding in die Goodwood-gevangenis is, was toe saam met Manuel in die Warmbokkeveld-gevangenis in aanhouding.

Die saak, wat intussen vanaf die Ceres-landdroshof na die Khayelitsha-streekhof oorgeplaas is, kon Vrydag nie voortgaan nie oor Manuel nie by die hof uitgekom het nie.

Die hof het gehoor dat die polisie Manuel na die Ceres-landdroshof geneem het in plaas van na Khayelitsha.

Hieroor het Heskwa se prokureur, Bruce Hendricks, gesê: “My kollega, Josua Greeff, het gesê dat ons die saak so gou as moontlik wil finaliseer.”

Hendricks, wat Vrydag in gestaan het vir Greeff, sê laasgenoemde het besluit om nie aansoek om bail te doen nie.

Landdros Gary Harmse het die saak tot 7 April uitgestel sodat Heskwa die saak met sy lawyer kan bespreek.

To Top