Beweerde diamantring diefstal op sal

DIE BURGER

Verslaggewer – Alethea Nieuwenhuizen, Bellville

‘n Voormalige SAL-lugwaardin het in die plaaslike landdroshof ontken dat sy langer as twee jaar gelede ‘n passasier se diamantring op ‘n vlug na London gesteel het. Die ring is in haar bagasie gevind nadat sy met haar terugkoms op die Kaapstadse Internasional Lughawe deursoek is. Me. Linda Charity Danie (27) het getuig dat sy die ring in ‘n toilet tussen die besigheid- en ekonomiese klas opgetel het terwyl sy en ander bemanning seker gemaak het die kajuit en toilette is skoon en dat geen obstruksies in die vliegtuig se gange is nie. Dit was laat, die passasiers het geslaap en hulle sou eers die volgende oggend voor ontbyt aankondig dat ‘n verlore ring gevind is. Sy is by ‘n vroeëre verskyning onskuldig bevind op die ander twee diefstalaanklagtes. Landdros David Tonisi het die aansoek om ontslag van die verdediging toegestaan ten opsigte van die aanklagte wat verband gehou het met buitelandse valuta van sowat R2000. Mnr. Ben Mathewson, vir Danie, het betoog dit is nie ‘n oortreding om buitelandse valuta in jou besit te hê nie. Kajuitbemanning word voorsien van ponde op vlugte wat in Londen land. En die frank wat Danie in haar besit gehad het, het ‘n vriendin vir haar gegee, is vroeër getuig. Danie het getuig dat sy die aand van 25 Mei in 2005 die ring gevind het terwyl sy die wasbakke van die toilette afgevee het. Sy het dit gaan aanmeld by die vlugdienskoordineerder sowel as die onderhoof. Sy is versoek om die ring tot die volgende oggend in die kantoor in die besigheidsklas te los omdat die passasiers reeds gelsaap het. ‘n Verdagte man, wat in die loop van die nag uit die ekonomiese klas na die besigheidsklas beweeg het, het haar laat besluit om eerder die ring om veiligheidsredes in haar sak te bêre. Die volgende oggend moes sy inderhaas ‘n aankondiging maak dat daar nie water beskikbaar is vir passasiers om te stort nie en rokende passasiers op die vlug, wat ook bemanning se aandag vereis het, het gamaak dat sy heeltemal van die ring vergeet het, het sy getuig. Op die vlug terug na Suid-Afrika is sy by die kajuitbemanning se aankoms deursoek en is die ring in haar beursie, saam met haar eie ringe, gevind. Sy het geen bedoeling gehad om die ring te steel nie en het genoeg tyd gehad om, as sy wou, tydens die deursoeking van die ring ontslae te raak. Sy is destyds ook geensins ingelig oor waarom net sy en die die ander bemanningslede deursoek is nie. Sy het baie skaam en vernedered gevoel, het Danie getuig. Die verhoor word op 4 April hervat. Me. Natasha Mshodi kla aan.

To Top