DIE BURGER

Verslaggewer – Carryn-Ann Nel

Mev. Najwa Petersen se nuwe regsverteenwoordiger het gister met die regter in die saak koppe gestamp. Adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC het gister groot beroering in die hof veroorsaak toe hy vir ‘n uitstel van twee maande gevra het om voor te berei. Regter Siraj Desai het dit egter duidelik gestel dat die hof nie “sulke tydsame optrede” kan bekostig nie. Petersen staan saam met mnre. Abdoer Emjedi, Walleed Hassen en Jefferson Snyders tereg weens die moord op op haar musieklegende man, Taliep. Hul verhoor moes gister begin, maar kon nie voortgaan nie omdat omdat die mandaat van Petersen se voormalige respan verlede week beëindig is. Von Lieres und Wilkau, voorheen die prokureur-generaal van Transvaal, het aan die hof gesê hy het eers Vrydag omstreeks 17:00 instruksies ontvang om Petersen se verdediging te behartig. Hy het ook eers gisteroggend hofstukke gekry. “‘n Periode van twee maande (vir voorbereiding) sal regverdig wees,” het hy aan Desai gesê. Hofgangers het op die voorstel hardop na hul asem gesnak, waarop Von Lieres und Wilkau gesê het: “Ek kan sien die jaghonde is honger vir bloed.” Desai het geantwoord dat dit die publiek se reaksie op sy voorstel is. Von Lieres und Wilkau het betoog dat die beskuldigdes geregtig is om van alle inligting te weet. Daar is onder meer inligting wat in die dokumente vervat word waardeur hy moet gaan, soos die borgtogaansoeke en -uitsprake. “Soos ek aan u in kamers gesê het, ek het nog nie dokumente onder oë gehad nie. Ons moet die staat se saak identifiseer en die rol van elke beskuldigde.” Daar is “drie leêrs en dit is nie ‘n cowboys-en-kroeks-roman wat gelees moet word nie.” Desai het egter gemeen twee maande is onaanvaarbaar. “Ek verstaan haar regte op ‘n regverdige verhoor, maar daar is ‘n aantal faktore wat ‘n rol speel.” Hy het gesê Petersen het haarself ook benadeel deur haar regsverteenwoordiging twee maal te verander. Haar medebeskludigdes en die sowat 50 staatsgetuies moet ook in ag geneem word. “Ek wil die verhoor versnel,” het Desai gesê. Desai het Petersen se medebeskuldigdes “persoonlik” om verskoning gevra vir nog ‘n uitstel. Aangesien daar drie weke in die hofkalender oor is en daarna twee weke van reses, het Desai die saak tot 7 April uitgestel.

To Top