DIE BURGER

Verslaggewer – Carryn-Ann Nel

‘n Splinternuwe regspan sal na verwagting van Maandag af mev. Najwa Petersen se verdediging in die moordverhoor van haar musieklegendeman, Taliep, behartig. Dit volg op ‘n onverwagse verskyning gisteroggend voor regter Siraj Desai in die Hooggeregshof hier waarin Petersen aangesê is om Maandag regsverteenwoordiging te kry. ‘n Prokureur by die prokureursfirma Mathewson Gess Inc. Attorneys, het gister bevestig dat hulle haar Maandag gaan verteenwoordig. Mnr. Josua Greeff het gesê “ons firma is aangestel en ons sal oor die naweek ‘n finale besluit maak oor die Advokaat”. Dit sal Petersen se derde regspan wees. Adv. Craig Webster en mnr. Norman Snitcher het haar eerste borgtogaansoek behartig. Meer ontlangs het adv. Herbert Raubenheimer SC en mnr. John Riley probeer om haar op borgtog vry te laat. Al die pogings het voor streeklanddros Robert Henney misluk, waarna Petersen haar na die Hooggeregshof gewend het om die besluite ter syde te stel. Die Appelaansoeke is ook verwerp. Petersen het gister omstreeks 12h00 in die hof verskyn. Dit was hoofsaaklik plaaslike media wat teenwoordig was. Najwa se twee seuns, mnre. Sulaiman Effendi en Achmat Gamieldien, was ook aan hul ma se sy voordat die hofverrigtinge begin het. Riley het aan die hof gesê dat sy mandaat beëindig is. Nadat Riley vlugtig ‘n oproep aan Greeff gaan maak het om vas te stel of laasgenoemde wel vir Petersen gaan verteenwoordig, het Riley gesê dat Greeff aan hom gesê het dat hy (Greeff) nog nie finale instruksies ontvang het om namens Petersen op te tree nie. Aangesien Petersen die tyd sonder enige regsverteenwoordiging was, het Desai direk met haar gepraat. Petersen het eers in ‘n sagte stem, en later in ‘n duideliker stem, gesê haar familie het die regsdienste van Riley en Raubenheimer beëindig. “Ek was nie daarvan bewus tot (Donderdag) nie,” het sy gesê. Sy het aan die hof verduidelik dat “die mense wat die besluite neem” in Namibië is. “Ek word nie (in die gevangenis) toegelaat om oproepe te maak nie.” Volgens haar het twee regsverteenwoordigers haar Donderdag by die Breederivier-gevangenis besoek. “Ek was nei eens bewus van die nuwe prokureurs nie. Meneer Riley weet van die telefoonsituasie. As ek net toegang kan kry tot ‘n telefoon…” Desai het hierop gesê sy is daarop geregtig. Hy het die ondersoekbeampte, kapt. Joe Dryden, gevra om seker te maak dat Petersen ‘n telefoonoproep maak. Petersen het die hof bedank en die oproep aan haar familie gaan maak.

To Top