KAAP RAPPORT

Verslaggewer – Estelle Ellis

In ‘n dramatiese wending in die moordverhoor van mev. Najwa Petersen moes regter Siraj Desai Vrydagmiddag inspring om te verhoed dat die saak ontspoor nadat sy haar tweede regspan in die pad gesteek het. Najwa se verhoor op ‘n aanklag dat sy haar man, die musieklegende Taliep Petersen, op 16 Desember 2005 in hul huis in Athlone laat vermoor het, sou more uiteindelik begin het. Kort nadat sy vandeesweek borgtog geweier is deur ‘n volbank regters van die Kaapse Hooggeregshof, het Najwa haar prokureur, mnr. John Riley, en adv. Herbert Raubenheimer SC se dienste beëindig. Najwa is volgens hofstukke teen die grond oor haar volgenhoue aanhouding. Verlede jaar, nadat sy vir die eerse keer borgtog geweier is, het sy ook die dienste van haar eerste regspan, adv. Craig Wegster en mnr. Norman Snitcher, beëindig. Riley en Raubenheimer het Vrydag in ‘n haastig georganiseerde hofsitting in hof 2 amptelik onttrek as Najwa se regspan. Kaap-Rapport verneem Najwa se familie is besig om met ‘n swaargewig-strafregkenner, Adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC, te onderhandel om hom aan boord te kry as advokaat. Desai het aan die ondersoekbeampte, kapt. Joe Dryden, gevra dat Najwa die kans gegee word om ‘n foonoproep te maak sodat haar regsverteenwoordiging gefinaliseer kan word. Von Lieres und Wilkau SC, die voormalige prokureur-generaal van die Witwatersrand, het ‘n paar jaar gelede die kontroversiële vryspraak van mev. Petrolene de Wet bewerkstellig. Sy is daarvan aangekla dat sy mans gehuur het om haar man, Deon, in hul huis in Pniël doot te skiet. In daardie saak was haar verweer dat sy net haar man ‘n “les wou leer”. Hy is ook advokaat vir die voormalige grootbaas van Fidentia. mnr. Arthur Brown, wat tereg staan op verskeie klagte van bedrog en diefstal waarby miljoene rande betrokke is, en vir die beweerde mafiabaas mnr. Vito Palazollo. Die staat is, na wat verneem word, gereed om met Najwa se verhoor voort te gaan, maar dit lyk nou of die verhoor noodgedwonge met nog ‘n paar dae uitgestel sal moet word sodat ‘n nuwe regspan op hoogte van sake kan kom. Mnre. Abdoer Emjedi, Waahied Hassen en Jefferson Snyders staan saam met Najwa tereg op aanklagte van moord, gewapende roof en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Opspraakwekkende getuienis van bekentenisse wat deur twee van die beweerde huurmoordenaars afgelê is, asook van ‘n kontantjek vir R100000 wat glo deur Najwa uitgeskryf is, word verwag as die saak begin.

To Top