Twee stoeiers in hof na ‘bakleiery’

Die Burger

Verslaggewer: Carryn-Ann Nel

STRAND – Twee voormalige Springbok-stoeiers het gister indie landdroshof hier op klagte van aanranding verskyn nadat hulle glo ‘n tienerseun van Elsiesrivier op die Gordonsbaai-strand geklap het.
Mnre. Cornelis Aggenbach en Quintin Tolmay, van Bloemfontein, ontken skuld op aanklag van die aanranding van Kyle Marinus (14), ‘n familielid van mnr. Quinton (Mr. Big) Marinus, vermeende sindikaatleier van die Kaap.
Kyle, ‘n gr.8-leerder aan die Hoërskool The Settlers in Parow, het gister getuig een van die beskludigdes het rassistiese aanmerkings aan hom toegesnou.
Volgens Kyle het hy en sy neef op 27 September verlede jaar op Gordonsbaai sokker op die strand gespeel toe ‘n “wit seun” die blikkies wat hulle as doelpale gebruik het, in die see gegooi het.
‘n Argument het na bewering tussen die kinders ontstaan, waarna die “wit seun” se pa, Tolmay, glo na Kyle as “you black piece of s-t?”
Volgens Kyle het hy hom op sy ken “getik” en oor sy kop geklap.
Mnr. Ben Mathewson, namens die beskuldigdes, het in die hof aangevoer Kyle het die kind in die maag geskop en die stryery begin.
Mev. Renee Marinus, Kyle se ma, het getuig sy het na die voorval na die bakkie gestap waarin die twee mans was, om hulle te kontronteer. Nog ander mans sowel as twee vroue en kinders was in die bakkie.
Sy is glo daarna deur een van die beskuldigdes geslaan.
‘n Woeste bakleiery tussen die twee groepe het daarna glo op die parkeerterrein uitgebreek waarin ‘n vriend van die Marinus-gesin, ene Brood, ook ingetree het.
Mathewson het gesê sy twee kliënte was nie in die bakleiery betrokke nie.
Mathewson het Kyle uitgevra oor Quinton Marinus, Kyle se pa, woedend uit die hof geloop en aan die hof gesê “daar word van mense in die saak gepraat wat niks met die saak te doen het nie”. Hy het na Quinton Marinus verwys.
Die saak is tot 24 Oktober uitgestel.

To Top