Drie vandag in hof vir sameswering tot moord

Die Burger, deur Maygene de Wee

Die verhoor van ‘n laerskoolonderwyseres van Bothasig, haar vermeende minnaar en ‘n vermeende huurmoordenaar wat haar gewese man uit die weg moes ruim, begin vandag in die streekhof in Parow.

Inge Chantal Pruis, ook bekend as Chantal Pruis, staan saam met haar vermeende minnaar, Dean Johnson, en Angelo Nico Isaacs tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg.

Isaacs staan ook tereg op aanklagte van poging tot moord en die onwettige besit van ammunisie.

Pruis en Johnson word daarvan aangekla dat hulle vir Isaacs gehuur het om Pruis se toe vervreemde man, Freddie Pruis jr., te vermoor.

Isaacs het Pruis in Oktober 2015 glo 14 keer met ‘n dolk gesteek.

Pruis het die aanval op 7 Oktober 2017 in Epping oorleef.

Die ondersoekbeampte, kapt. Dean Kiewiets, het in Januarie 2016 getuig dat Pruis Isaacs glo in Epping ontmoet het om ‘n kwotasie vir sonpanele te gee.

Pruis is ‘n sakeman wat onder meer sonpanele installeer.

Pruis, wat in sy bakkie gesit het toe hy aangeval is, het daarin geslaag om van sy vermeende aanvaller weg te jaag toe hy die betrokke aand omstreeks 19:00 gesteek is.

Kiewiets het getuig dat Pruis in trurat gery het, amper bo-oor die beskuldigde (Isaacs), deur ‘n betonmuur tot by die brandweerstasie in Epping, waat hy gehelp en na die N1 Stad-hospitaal gehaas is.

Kiewiets het onder meer ook getuig dat die motief vir die aanval nog onbekend is, “hoewel dit geldelik van aard kan wees”.

Hy het getuig dat Inge in 2015 R64000 uit ‘n Allan Gray-rekening onttrek het.

Daar was glo ook SMS-boodskappe tussen Johnson en Isaacs, waarin Isaacs glo gesê het hy soek sy R40000 se waarde.

Wat presies die R40000 se waarde is, kon Kiewiets in sy getuienis egter nie verduidelik nie.

Hy het ook getuig dat Pruis vir Isaacs die dag waarop Isaacs by sy werk in hegtenis geneem is, sonder moeite uitgeken het.

In hofstukke wat Inge in Mei 2016 by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien het, het sy onder meer genoem dat Johnson op 7 Oktober, nagenoeg drie maande nadat hulle in ‘n verhouding betrokke geraak het, aan haar gesê het dat ‘n vriend wat met haar man moes praat oor dreigenmente teen haar “drooggemaak” het.

Chantal se man het haar glo gedreig dat hy hul seuntjie alleen sal grootmaak as sy hom verlaat.

Sy het ontken dat sy vir Isaacs, wat op 26 November 2015 in hegtenis geneem is, ken.

Pruis en Johnson is op 19 Desember 2015 in hegtenis geneem. Hulle is op 28 Desember op borgtog van R10000 vrygelaat.

Isaacs is op 26 Januarie ook op borgtog van R10000 vrygelaat.

To Top