‘Instruksies vir huurmoord op foon’

Die Burger, deur Maygene de Wee

Drie ontken skuld

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy op 7 Oktober 2015 vir Freddie Pruis jr. wou vermoor, het boodskappe op sy selfoon gehad met instruksies daarop om iemand dood te maak.

Die ondersoekbeampte, lt.kol. Dean Kiewiets, het gister in die streekhof in Parow getuig hy het uit die boodskappe afgelei dat die persoon wat doodgemaak moes word Freddie Pruis jr. is.

Angelo Isaacs staan saam met Inge Pruis en haar vermeende minnaar, Dean Johnson, tereg op aanklagte van sameswering om moord te pleeg.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle tussen Oktober 2015 en November 2015 op verskeie plekke saamgesweer het om vir Pruis jr. te vermoor.

Inge en Pruis jr. was in daardie tyd nog getroud.

Isaacs staan ook tereg op ‘n aanklag van poging tot moord. Hy het na bewering vir Pruis op 7 Oktober 2015 by ‘n onderneming in Bofors-sirkel in die Epping-nywerheidsgebied aangeval en verskeie kere met ‘n mes gesteek.

Pruis kon daarin slaag om weg te jaag.

Hy het in sy pa se wit Toyota Hilus-bakkie wat hy die dag bestuur het na die Goodwood-brandweerstasie gejaag. Hier is hy gehelp en later na die N1 Stad-hospitaal geneem.

Kiewiets, wat in 2015 nog ‘n kaptein by die Elsiesrivier-polisie se speurtak was, het getuig dat die boodskappe met die instruksies om iemand dood te maak van ‘n kontak op Isaacs se selfoon met die naam Dean gekom het.

Hy het ook getuig dat Isaacs die dag wat hy in hegtenis geneem is, ontken het dat hy op 7 Oktober 2015 in Epping was. Hy het aan die polisie gesê dat hy tot 18:00 die aand gewerk het en dat hy na werk na ‘n gimnasium in Bellville-Suid is waar hy ‘n instrukteur is.

Isaacs is op 26 November 2015 by sy werkplek, Prime Meat Supermarket, in hegtenis geneem.

Kiewiets het getuig hy het later uitgevind dat die gimnasium, Lethal Edge, aan Dean Johnson behoort.

Kiewiets het ook getuig dat Johnson toe hy genader is om Isaacs se alibi vir die aand te bevestig, onmiddellik sonder enige huiwering gesê het dat hy (Isaacs) die betrokke aan – 7 Oktober 2015 – by die gimnasium was.

Volgens Kiewiets ge getuienis het hy onmiddellik agterdogtig hieroor geraak. Johnson se antwoord was te onmiddellik, het hy getuig en dit amper twee maande na 7 Oktober 2015.

Inge Pruis en Johnson is op 19 Desember 2015 in hegtenis geneem.

Die drie het gister in die streekhof in Parow skuld ontken op die aanklagte van sameswering teen hulle.

Isaacs het ook skuld ontken op die aanklagte van poging tot moord. Sy verweer is dat hy in selfverdediging opgetree het.

Die verhoor gaan vandag voort.

To Top