Finansiele Beplanner in hof oor hy glo lol

DIE BURGER, ARTIKEL DEUR JANA BREYTENBACH

‘n Senior finansiële beplanner van Sanlam is Dinsdag geskors hangende die finalisering van ‘n saak van seksuele aanranding van twee minderjarige meisies teen hom.

Die beskuldigde mag ingevolge wetgewing nie geidentifiseer word voordat hy op die aanklagte gepleit het nie.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die direkteur van openbare vervloging (DOV), het bevestig die beskuldigde het Dinsdag in die landdroshof in Blue Downs op twee aanklagte van seksuele aanranding verskyn.

Die staat voer aan die beskuldigde het vroeër vanjaar twee meisies, onderskeidelik nege en 11 jaar oud, betas deur aan hul geslagsdele te raak toe hy by hulle aan huis in Brackenfell gekuier het.

Hy is in Junie in hegtenis geneem en op borgtog van R1000 vrygelaat.

Benewens die strafregtelike saak, word vertroulik verneem dat die beskuldigde moontlik ook deur ‘n siviele eis in die gesig gestaar word vir die finansiele uitgawes wat die slagoffers vir psigiatriese hulp moes aangaan.

Jaco Coetzee, uitvoerende hoof van Sanlam Distribusie, het by navraag bevestig hulle het sowat vyf maande gelede bewus geraak dat ‘n strafregtelike klag teen “een van ons adviseurs” ingedien kan word.

“Sanlam plaas ‘n hoë premie op onkreukbare etiek. Sanlam het onmiddellik met ‘n toepaslike proses begin en deurgaans met die senior staantsaanklaer in verbinding gebly om te verseker dat ons behoorlik ingelig is.”

“In ooreenstemming met algemene praktyk sal Sanlam die dienste onmiddellik opskort van enige werknemer of adviseur wat amptelik vervolg gaan word tot die saak afgehandel is en uitspraak gelewer is.”

“Indien ‘n hof iemand skuldig bevind, sal ons die persoon se dienste en adviseurskontrak beëindig,” sê Coetzee. Hy het bestig dat die man se adviseurskontrak opgeskort is in die lig van die aanklagte teen hom.

Ntabazalila het bevestig die verrigtinge is tot 5 Desember uitgestel om ‘n streekhofdatum vir die verhoor te bekom.

“Die dossier sal nou na die senior staatsaanklaer by die Parow-streekhof gestuur word sodat daar besluit kan word of die saak reg is vir verhoor,” sê Ntabazalila.

Alle sake van seksuele oorsprong in die noordelike voorstede word in die streekhof in Parow verhoor.

To Top