‘Geen bewyse’ teen Uys – ‘Seksblogger’: saak terug na direkteur van openbare vervolging, Landdros verbaas, verbyster

DIE BURGER

Verslaggeefster – Marelize Barnard

KAAPSTAD – In ‘n wending in die saak teen die vermeende kuberboelie mnr. Juan-Duval Uys (39) het die hof gister gehoor daar is geen bewyse teen Uys in die hofdossier nie. Landdros Phindi Norman het gesê sy is “verbyster en verbaas” deur die optrede van die staat om die saak na die direkteur van openbare vervolging terug te verwys vir ‘n besluit oor die verdere vervolging van Uys. Uys, in die hofgange die “Scarlet Pimpernel” van die kuberruimte genoem, het weer in die hof verskyn op aanklagte van bedrog en crimen injuria. Die klag van crimen injuria is deur mnr. Simon Grindrod van die OD teen Uys ingedien en hou verband met ‘n seksblog wat deur ‘n manlike prostituut bedryf is en waarop bekende Suid-Afrikaanse mans se name genoem is. Die aanklag van bedrog hou verband met ‘n bedrag van R250. “Ek het gewonder wat deur die kop van die staatsaanklaer gegaan het,” het Norman gesê oor ‘n vorige staatsaanklaer se besluit om Uys aan te kla, in ag genome die inhoud van die polisiedossier voor die hof. Die landdros het die saak vir ‘n laaste keer uitgestel en die staat tot 21 September kans gegee om ‘n besluit te neem oor wat van die saak gaan word. Uys se prokureur, mnr. Reaz Khan, het dit aan die hof gestel hy en ‘n senior aanklaer het die dossier bekyk en die aanklaer stem saam daar is geen bewyse daarin wat Uys met die aanklagte verbind nie. Khan het gesê hy het gisteroggend met die aanklaer vergader juis om te kyk of daar wel ‘n saak teen Uys is. “Alles is gegrond op die argwaan van die klaer en ook op mediaberigte,” het Khan dit aan die hof gestel. Hy het verder aangevoer in Grindrod se verklaring word Uys se naam geensins genoem as die persoon wat die oortreding van crimen injuria gepleeg het nie. Duiwe wat uitermate hard beuite die vensters van hof 13 gekoer het, het dit moeilik gemaak vir die hof om die staatsaanklaer, mnr. Titi Mthimunye, se redes aan te hoor waarom die saak net terugverwys word na die openbare vervolger en nie teruggetrek moet word nie. Uys het voor die hofsaak, wat eers om 14:00 begin het, buite die hof rondgestaan. Hy was in ‘n beige broek, strepieshemp met ‘n goue das en swart baadjie geklee. Met ‘n selfoon in die een hand en sy sleutels, met onder meer drie sleutels van posbusse, in die ander hand, het hy sy mening gedeel. “In die 10 tot 12 jaar wat in die openbare oog is, was daar al 15 soorgelyke sake teen my. Die sake was nie een waar nie,” het Uys gesê. Van die sake wat hy genoem het, sluit die besit van kinder-pornografie en die moord op ‘n Kronstadse vriend in. Hy het gesê hierdie is die eerste keer dat hy in die beskuldigdebank van ‘n hof verskyn. Oor sy verbintenis met die seks-blog het Uys gesê die Gay and Lesbian Alliance, waarvan hy vantevore die leier was, het nie eens ‘n webwerf nie. “As ek so ‘n boffin was met webblaaie sou dit mos anders gewees het,” het Uys gesê. En is hy die ware Neil Watson wat die berugte webwerf crimexpo-southafrica (Cesa) begin het? “Neil Watson is in die VSA. Sover ek weet, is hy steeds betrokke by ‘n nuwe webtuiste,” het Uys geantwoord. Gerugte het dit dat “Watson” ‘n skuilnaam is wat deur Uys gebruik is.

To Top